Suid Afrika is ‘n kwynende mark vir Duitse luukse motorvervaardigers. Veral Mercedes-Benz, waar die maandelikse verkop minder as die helfte is, in vergelyking met 15 jaar gelede.

Maar die markaandeel wat duur Duitse motors verloor het in Suid-Afrika, is ingepalm deur Sjinese invoerders. Chery het die breedset modelreeks van enige Chinese motormaatskappy in Suid Afrika en dit is geen verassing nie. Hoekom? Suid Afrika is nou Chery se 5ste grootste uitvoermark.

Die dae van daai lagwekkende Cherry QQ3 motors van die laat 2000s is lang vergete. Chery en al die Sjinese motor reus se onderliggende modelreekse (Omoda, Jaecoo, Jetour, en Lepas) maak opgang in Suid Afrika, met beter binneruim tegnologie as baie van die duurder Europese motors.

Maar instandhouding en langtermyn diensbaarheid is altyd kwelvrae met die Sjinese motors. Al daai skerms en bestuurshulpmiddels is indrukkend, maar wat gebeur hulle moeilikheid gee? En gediens of vervang moet word?

Die duur Franse les

Chery dealership in Africa

Suid Afrikaners het vir lank ‘n vooroordeel teenoor Franse motors gehad, na die plaaslike mark na 1994 weer opgestel is.

Citroen, Peugeot en Renault se modelle het beter ontwerp, binneruimte en bestuurservaring gebied as vergelykende modelle van Toyota en VW. Maar die nadiens was ‘n nagmerrie.

Daar was net nooit genoeg geld belê in ‘n verskaffingsketting vir onderdele nie. Citroen, Peugeot en Renault eienaars is tot raserny gedryf in die lat 1990s en 2000s, omdat daar dikwels weke vir eenvoudige onderdele gewag moes word.

Dit bring ons by Chery se jongste bemarkingsveldtog: ‘n transnasionale waarborg. Vir Afrika. En dit is ‘n besonder vindingryke idee.

Soek jy 'n Chery? Ons het die beste nuwe en gebruikte modelle vir jou

1 000 000km enjin waarborg in Windhoek?

Chery cutaway drawing

Wat gebeur as jy iewers in Namibië of Botswana, probleme optel met jou Chery, op vakansie? As daar ‘n plaaslike Chery geakkrediteerde dienssentrum is, kan hulle al die steundienste bied wat jou Chery handelaar by die huis kan. En enige dienswerk wat gedoen word, kry die transnasionale waarborg, wat beteken dat jou voertuig steeds ‘n volledige, amptelike, diensgeskiedenis in die boekie het.

Chery dienspunte buite Suid Afrika is maar yl, omdat die omliggende buurmarkte sulke klein nuwe voertuig markte is. Maar as jy besluit om ‘n verplasing te neem Windhoek of Maun toe, vir ‘n lang- of kort-duur werk projek, hoef nie te bekommer oor jou Chery se waarborg en dienste nie.

Die transnasionale waarborg is juis ontwerp om dit makliker te maak vir enige Chery eienaar, wat na ‘n Afrika buurland moet verhuis, en nie fynskrif moeite met hul voertuig waarborg wil ervaar nie.

Motorbedryf kenners sal ook die Chery transnasionale waarborg noukeurig dophou. Hoekom? Omdat dit 'n groot toets kan word, vir Chery se 10-jaar/1 000 000km enjin waarborg. Veral wanneer Cherys baie hoë kilometers begin bereik, in Afrika buurlande met swak brandstofgehalte en baie stof.

Woorde en insigte deur Lance Branquinho