Sedert die Tweede Wêreldoorlog was daar verskeie vervaardigers wat relatief bekostigare afslaankapmotors met twee sitplekke vervaardig het.

Veral Britse vervaardigers het in hierdie uiters moeilike segment meegeding, en veral Ameerikaanse motoriste kon nie genoeg daarvan kry nie. MG het die T-reeks bekendgestel nadat die Tweede Wêreldoorlog ten einde geloop het; die reeks het uitgeboude modderskerms met los kopligte gehad, asook deure met verwyderbare skuifvensters. In 1955 het die maatskappy sy meer moderne MGA bekendgestel, met die keuse van 'n afslaankap- of koepeebakwerk.

Een van die modelle wat die meeste aandag getrek het omdat hy sy tyd so ver vooruit was, was die Twin Cam, maar hierdie model was blykbaar baie moeilik om aan te werk en is gou aan die mark onttrek.Die MGB het in 1962 in die MGA se plek op die mark gekom; eers net as 'n afslaankap, maar in 1965 is die mooi MGB GT, met 'n luikdeur, by die reeks gevoeg.

Gedurende die agttien jaar wat die MGB op die mark was, is geen meganiese veranderinge aangebring nie, behalwe vir die bekendstelling van die minder suksesvolle MGC met die drieliter-sessilinderenjin uit die Austin-Healey 3000.i n 1967 . Die V8 wat net as 'n GT beskikbaar was en deur die bekende Rover 3,5 liter-enjin aangedryf is, in 1973 bekendgestel.  

Amerikaanse veiligheidstandaarde het gemaak dat die latere modelle, van omtrent 1976 af, met rubberstampers toegerus was. Nog 'n klein MG wat baie lank beeskikbaar was, was die Midget, gebaseer op die Austin-Healey Sprite Merk 2. Die Midget se enjinkapasiteit is deur die jare vergroot, van 948 cm³ tot 1098 cm³ en 1275 cm³. Die laaste modelle het 'n Triumph 1,5 liter-enjin gehad. Die MGB het die land in klein getalle binnegekom, maar die Midget is uiters skaars, hoewel daar een in die eerste episode van die televisiereeks Willem te sien was. MG het later nog twee tweesitplek-sportmotors vervaardig, naamlik die MG F en die MG TF. Laasgenoemde was van 2002 tot 2005 in Suid-Afrika beskikbaar. Die verskil tussen hierdie twee modelle en hul voorgangers was dat hul enjins tussen die agterwiele gemonteer is,.

MG se vernaamste mededinger was Triumph, wat die Roadster na die Tweede Wêreldoorlog bekendgestel is. Hierdie model is opgevolg deur verskeie TR-modelle, van die TR 2 in 1953 tot die mider suksesville TR 7 in 1975. Weeer eens het Amerikaanse veiligheidstandaarde die ontwikkeling van die TR-modelle beïnvloed, tot so 'n mate dat die TR 7 aanvanklik net as 'n koepee beskikbaar was. Die afslaankap is eers later bygevoeg. Die Spitfirte, wat op die Herald se plafform gebou is, is , soos die MGB, in 1962 bekendgestel.

Die aanvanklike modelle is deur 'n 1 147 cm³-enjin aangedryf, maar in 1967 is die enjinkapasiteit na 1 296 cm³ vergroot. Terselfdetyd is die voostamper hoër gemonteer, en dit het 'n bietjie gelyk na 'n hond wat 'n been tussen sy tande gehad het. Die laaste modelle is deur 'n 1 5 liter-enjin aangedryf voordat die Spitfire in 1980 aan die mark onttrek is. Omdat Biritsh Leyland nie die geld gehad het om opvolgers vir die Spitfire en die MGB te ontwikkel nie, het hierdie twee modelreekse baie langer op die mark gebly as wat 'n mens sou verwag.

Die Britse tydskrif Car het trouens geen genade met die Spitfite gehad nie, die redaksie se kommentaar was: "Somebody shoot it , please" en "Death, where is thy sting?" Ter versagting moet 'n mens sê dat die tydskruf geen erg aan Britsh Leyland se produkreeks gehad het nie. Die GT 6 is in 1966 bekendgestel; dit was 'n luikrugweergawe van die Spitfite, met die tweeliterenjin met ses silinders uit die 2000-sedan. Blykbaar was dit nie so maklik om daardie enjin  vir die GT6 te monteer nie al was die hele neus die enjinkap. Die GT 6 was net tot 1973 op die mark.

Die Austin-Healey is in 1952 bekendgestel; Healey was aanvanklik 'n onafhanklike maatskappy en toe die Healey Hundred, soos hy eers bekendgestaan het, by die Londense Motorskou bekendgestel is, het Donald Healey dadelik 'n ooreenkoms met BMC aangegaan om die motor as die Austin-Healey te bemark. Die Sprite het 'n paar jaar later gevolg, en dadelik die aandag met sy kopligte op die enjinkap, wat soos padda-oë gelyk het, getrek.

Dit was 'n uiters gewilde motor, maar die gebrek aan 'n bagasiebakdeksel, wat gemaak het dat bagasie deur die deure gelaai moes word, was 'n groot nadeel. Toe die Merk 2 in 1961 bekendgestel is, is hierdie saak reggestel, maar sy stilering het sy karakter verloor en die MG Midget wat op hom gebaseer was, was buitendien meer gewild. Gevolglik het British Leyland hom mettertyd op die Midget toegespits. Die "Big Healey", met ander woorde die oorspronklike Austin-Healey, was tot 1969 op die mark. 

Lotus was nie net 'n suksesvolle vervaardiger van Formulee 1-renmotors nie, maar ook van sportmotors. Die een bekostigbare tweesitplek-sportmotor wat veral die publiek se aandag getrek het, was die Elan. Die tweemalige Formule 1-wêreldkampioen Jim Clark, wat sy hele loopbaan lank vir Lotus deelgeneem het totdat hy in 1968 in 'n noodlottige ongeluk betrokke was, het met 'n Elan gery.

Hy het gesê dit was nie omdat hy dit moes doen weens sy verbintenis met die Formule 1-span nie maar omdat hy regtig van die motor gehou het. Mettertyd is die Elan Plus 2, met 'n harde dak en vier sitplekke, by die reeks gevoeg maar die hele reeks is in 1975 aan die mark onttrek toe Lotus op groter motors soos die Elite, die Eclat en die Esprit gekonsentreer het. In 1989 is 'n splinternuwe voorwielaangedrewe Elan bekendgestel, maar hy was nie so suksesvol nie en in 1995 is produksie gestaak.

Kia het hom egter tot 1999 bly vervaardig as die Kia Elan. Die Elise, wat in 1996 as plaasveranger vir die voorwielaangedrewe Elan bekendgestel is, was 'n sukses, hoewel stilering belangriker as praktiese oorwegings was. Anders as die Elan was die Elise se enjin tussen die agterwiele gemonteer. 

Een bekostigbare tweesitplek-sportmotor wat onbekend in Suid-Afrika is, is die Reliant Scimitar SS1. Die Italiaanse ontwerper Giovanni Michelotti, wat veral bekendheid verwerf het vir 'n groot aantal Triumph-modelle soos die Herald, die Spitfire, die TR 4 en die 2000/2,5 sedans, is in 1980 oorlede, en die SS1 was sy laaste ontwerp. Nogtans is die SS1 eers in 1984 benekdgestel.

Dit was een motor wat gewys het hoedat onafhanklike maatskappye met gevestigde vervaardigers kan saamwerk. Die meganiese komponente van die meeste SS1-modelle het van die Ford Escort Merk 3 af gekom en die instrumente en kontroles van sekere Austin Rover-produkte af. Een model wat nogal heelwat belangstelling gaande gemaak het, was die 1800 Ti, met 'n turboaangejaagde Nissan-enjin. Chrissie Hynde, die hoofsangeres van die popgroep The Pretenders,het in die musiekvideo van hul treffer Don't get me wrong met 'n SS1 gery.

Hoewel Britse vervaardigers die erkenning vir die totstandkoming en volgehoue sukses van hierdie segment gekry het, was daar ook soortgelyke motors van ander dele van die wêreld. Die Fiat X1/9 is in 1972 bekendgestel en is aangedryf deur dieselfde 1,3 liter-enjin as die 128. Die verskil was egter dat die X1/9 nie 'n afslaapkap gehad het nie, maar 'n  verwyderbare Targa-dak wat in die voorste bagasiebak gebêre is as dit verwyder is. Die enjin is tussen die agterwiele gemonteer, en agter die enjin was nog 'n klein bagasiebak wat net groot genoeg was vir 'n paar inkopiesakke of een sak vir 'n naweek weg.

Die X1/9 is tien jaar lank as 'n Fiat bemark, maar daarna as 'n Bertone, na aanleiding van die ontwerpateljee wat vir die motor verantwoordelik was. Die laaste X1/9 is in 1989 gemonteer en op daardie stadium het hy die Fiat Ritmo se 1,5 liter-enjin gedeel. Die X1/9 was in klein getalle in Suid-Afrika beskikbaar, en nadat Fiat in 1980 aan die Suid-Afrikaanse mark onttrek het,. het Alfa Romeo die Bertone tot 1985 na Suid-Afrika ingevoer.

Toyota het in 1984 met 'n soortgelyke ontwerp vorendag gekom toe die MR 2 bekendgestel is. Die MR 2 het byna presies soos die X1/9 gelyk en is aangedryf deur die dubbelnokasenjin met sestien kleppe wat later vir die Corolla gebruik is. Toyota het trouens 'n paar MR 2's na Suid-Afrika ingevoer om werktuigkundiges op te lei voordat sy enjin in 1985 vir die Corolla bekendgestel is.

Die tweede geslag MR 2 het baie na 'n Ferrari gelyk maar steeds 'n verwyderbare Targa-dak gehad. Hierdie model is deur 'n tweeliterenjin aangedryf. Die derde geslag MR 2 is in 1999 bekendgestel en was die enigste een met 'n gewone lapdak wat heeltemal afgeslaan kon word. Weer eens is die enjin in die middel gemomteer, hierdie keer met 'n kapasiteit van 1,8 liter. Hierdie reeks is in groter getalle na Suid-Afrika ingevoer as sy voorgangers, maar produksie is in 2007 gestaak sonder dat 'n plaasvervanger bekendgestel is. 

Die een Japanse tweesitplek-sportmotor wat 'n dawerende sukses was, was die Mazda MX 5, wat in 1989 vir die 1990-modeljaar bekendgestel is. Dit was as't ware 'n moderne :Lotus Elan, met 'n dubbelnokasenjijn wat in die lengte gemonteer is en agterwielaandrywing. Die aanvanklike model se enjinkapasiteit wat 1,6 liter, maar dis later tot 1,8 liter en eindelik tot twee liter vergroot.

Die MX 5 was uiters gewild in die Verenigde State van Amerika, waar hy as die Miata bekendgestaan het. Meer as 'n miljoen eenhede van die verskillende geslagte van die MX 5 is verkoop, met die gevolg dat dit die gewildste tweesitplek-sportmotor in die geskiedenis geword het. Hoewel daar verskeie stileringsveranderinge deur die jare aangebring is, was die ontwerpfilosofie nog altyd dieselfde. Die huidige geslag MX 5 is reeds sedert 2014 op die mark, en 'n bykomende model, die RF (vir Retractable Fastback) is by die reeks gevoeg.

Hierdie model beskik oor 'n harde dak wat soos 'n groot sondak oopgeskuif kan word. Mazda het besluit om hom op hierdie model in Suid-Afrika toe te spits nadat dit bekendgestel is, maar die MX 5 is stilweg aan die Suid-Afrikaanse mark onttrek. Die belangrikste rede is die bekostigbaarheidskrisis waarmee Suid-Afrikaanse motoriste moet saamleef en waarvoor daar skynbaar geen oplossiong is nie. Dit was ook die laaste motor in hierdie segment wat in Suid-Afrika beskikbaar was.

Die einde van die era van bekostigbare tweesitplek-afslaankapmotors is vir Suid-Afrikaanse geesdriftiges moeilik om te aanvaar, omdat dit hulle van die geleentheid ontneem om 'n motor teen 'n redelike prys, maar wat tot vir 'n bietjie opwinding sorg, te besit. Die MG Cyberster is wel pas bekendgestel, maar sy elektriese kragbron maak hom duur, en die infrastruktuur vir elektriese voertuie is op hierdie stadium ontoereikend. Wie ook al hierdie segment laat herleef, behoort groot sukses te behaal. 

Daantjie Badenhorst

proudly STUURWIEL