Vir middeljarige Suid Afrikaanse motorkopers, wat grootgeword het in 'n wêreld van vierdeur sedan gesinsmotors, is die werklikheid nou dubbelkajuit bakkies en staalraam sportnutsvoertuie.
Waar die voorstede nog in die laat 1990s gewemel het van Duitse luukse sedan motors soos 3-Reeks, C-Klass en A4, is die sedan bakvorm nou 'n nismark. Meestal goedkoop klein sedan modelle, gemik op Uber bestuurders.
Maar wat het werklik met die middelslag sedan mark in Suid Afrika gebeur? En is daar nog waarde en 'n sinvolle eienaarskap ervaring te vinde met 'n middelslag of luukse sedan gesinsmotor?
Toyota is allerweë die breedste maatstaf vir Suid Afrikaanse voertuig modes en sekerlik die beste voorbeeld van hoe die sedan mark gekwyn het. In die 1990s was Corolla en Camry nog gesogte gesinsvoertuie vir jong mense en middelinkomste gesinne. Maar vandag is die Corolla sedan geheel oorskadu deur Rav4, wat dieselfde onderstel het.
Dieselfde het gebeur met Camry en Avensis, wat albei die opvolgers was op Cressida – sonder twyfel Suid Afrika se gewildste middelslag gesinsmotor, van die 1980s. Selfs Toyota kon nie voorspel hoe suksesvol Fortuner sou wees toe dit in 2006 die mark toegetree het nie. Binne 'n paar maande was dit duidelik dat Suid Afrikaners 'n groeiende voorkeur ontwikkel het vir geharde sportnutsvoertuie, wat ook daaglikse pendelwerk kon doen.
Great insurance is as vital as safe driving – click here to find out more
Hoekom ons nie meer Camry ry nie
Fortuner se welslae was eweneens die doodsklok gewees vir die middelslag sedan in Suid Afrika. Al is die huidige Camry 'n reuse sukses in Amerika, het Toyota nooit die Camry reeks plaaslik vervang na Fortuner se opgang nie. En vir middel en opper inkomste Suid Afrikaanse gesinne, is 'n dubbelkajuit bakkie of sportnutsvoertuig op 'n bakkie onderstel (Fortuner/Everest/MU-X) die aangewese keuse.
Maar hoekom? Die waarheid is dat swakker padinstandhouding 'n sedan net te weerloos gemaak het, as 'n veilige gesinsvoertuig. Enige dubbelkajuit bakkie of staalraam sportnutsvoertuig kan sonder drama deur 'n reeks slaggate rol, sonder om 'n pap band op te doen, wiel te kraak, vering te breek of beheer te verloor. En dit is nie die geval in 'n luukse Duitse kompak sedan met laeprofiel bande, sportiewe vering, en 'n lae rithoogte nie.
Starting or running a small business and in need of a bakkie – click here
Beter vakansie en toer voertuie
Benewens die oorleefbaarheid van dubbelkajuit bakkies en staalraam sportnutsvoertuie op die land se swakker paaie, is daar ook die gemak waarmee hulle toer. Veral vir landnaweke en vakansietyd.
Die Suid Afrikaanse platteland is 'n skatkis besienswaardighede, hartlike blyplekke en warm mense. Vir gesinne wat sonder beperkings wil toer en die beste van die Kalahari, Karoo, Maluti berge of prag noordelike bosveld wil sien, maak 'n dubbelkajuit bakkie of straalraam sportnutsvoertuig baie meer sin. Hierdie voertuie is in beginsel ontwerp om duisende kilometers geharde grondpad te ry, sonder moeite.
Waar 'n sinkplaat grondpad jou luukse sedan uitgemaak sal skud en skade maak, doen dit baie minder langtermyn slytasie aan 'n Hilux of Fortuner, met daai groot bande, staal onderstel en veldry veringstelsel, wat al die sinkplaatpad skokke absorbeer.
Crunch the numbers by using this handy Finance Calculator
Waarheen is al die luukse sedan kopers?
Dit spreek boekdele dat Suid Afrika se mees suksesvolle vervaardiger (Toyota), nie meer 'n middelslag sedan bemark nie.
Enigiemand wat teen die draai van die eeu voorspel het dat Suid Afrikaners nie in die toekom 'n Camry sou wou ry nie, sou afgelag word. Maar in die huidige mark het Toyota slimgespeel en van die handelsnaam se Cressida-Camry/Avensis erfenis ontslae geraak en kopers 'n veldry gesinsvoertuig oplossing gebied met dubbelkajuit Hilux, Fortuner, en Rav4.
Duitse glansvervaardigers soos Audi, BMW en Mercedes-Benz se kroon klein sedan modelle was op 'n tyd die mees gesogte koop keuses in Suid Afrika. In die huidige mark is A4, 3 Reeks, en C-Klass randfiguur keuses.
Van die historiese A4, 3 Reeks en C-Klass kopers het die oorgang gemaak na Q5, X3 en GLC; maar baie het nie. Hulle is verlore vir Duitse vervaardigers soos Audi, BMW en Mercedes-Benz. Hoekom? Omdat 'n luukse Japannese of Amerikaanse dubbelkajuit bakkie, of staalraam stasiewa veldvoertuig, 'n beter hedendaagse gesinsvoertuig vir Suid Afrikaners geword het.
Die kwyning van die luukse middelslag sedan het nie gebeur omdat die voertuie swakker geword het nie. Hulle is net nie meer sinvol is vir Suid Afrikaanse toestande of lewenstyl werklikhede nie.
In die hoë verrigtingsmark is legendariese sedan modelle soos C63/E63 en M3/M5 steeds baie begeerlike droomwiele. Die mark vir middelslag en luukse sedan motors, veral Duitse modelle, is slegs 'n breukdeel van wat dit was in die vroeë 2000s.
Winskoop weelde
Is 'n gebruikte Duitse middelslag sedan 'n goeie koop? As jy in 'n deel van Suid Afrika woon met gehalte paaie, en weet jy is nie iemand wat ooit grondpaaie gaan verken nie, is die bestuursgemak, verbysteek verrigting en hoëspoed baanvastigheid van 'n A4, 3 Reeks of C-Klass verseker iets om te oorweeg.
Kopers soek gesinsvoertuie wat sonder moeite verkrummelende landelike paaie kan toer vir daai naweek wegbreek bestemmings. En tydens die langer winter en jaareinde vakansies, volgepak kan word en met selfvertroue deur Botswana en Namibië kan toer. Of 'n prag grondompad deur die Karoo kan vat, vir daai kusvakansie.
Wat van die Sjinese? Ironiese genoeg is die sedan bakvorm vir dekades 'n gesogte voertuig gewees in Sjina, maar die vlymskerp produkbeplanners by Sjinese voertuig vervaardigers lees die mark ongelooflik goed. Dit is hoekom meeste die Sjinese invoerders wat handel in die Suid Afrikaanse mark, groot belê in bakkies en sportnutsvoertuie, sonder om fondse te verbrou met middelslag sedan modelle.
Woorde en insigte deur Lance Branquinho