Vryhandel ondergaan tans 'n reuse toets wêreldwyd, en Suid Afrika se motoruitvoer ekonomie is in die spervuur daarvan.
Die plaaslike motorbedryf op gebou en befonds op 'n uitvoermodel, Dit is nie ingewikkeld om te begryp nie, omdat die plaaslike nuwe voertuigmark nooit groot genoeg sal wees om plaaslike produksie ekonomies te regverdig nie.
Regerings subsidies, nywerheidsontwikkeling ondersteuning en invoerheffings help om sterk motoraanleg beleggings binne Suid Afrika te hou. Vervaardigers soos BMW, Ford, Toyota en VW, voer na verskeie wêreldmarkte uit, veral in Europa. Maar dit is een vervaardiger, wat meestal staatmaak op die Amerikaanse mark: Mercedes-Benz.
Driepunt ster se kern uitvoermark
Bykans al Mercedes-Benz se Oos Londen uitvoervoertuie, is bestem vir Amerika. Oor die jare heen het die oos Londen aanleg, en die omringende verskaffingsketting, die vermoë opgebou om C-Klass voertuie te bou, wat op die gehaltepeil is vir veeleisende Amerikaanse Mercedes-Benz kopers.
Sedert Februarie, is daar al hoe meer handelspanning vir Suid Afrikaanse maatskappye wat uitvoer na Amerika. Die jongste 30% heffings wat aan die begin van Augustus aangekondig is, het skokgolwe deur die plaaslike motorbedryf gestuur, met Mercedes-Benz wat die swaarste nagevolge dra.
Na dekades van bevoorregte handelsooreenkoms toegang na die Amerikaanse mark, wat die ekonomies lewensvatbaarheid van die Oos Londen aanleg gebou het, is alles nou in gedrang.
Mercedes-Benz het in Julie die Oos Londen aanleg gesluit. Amptelik was dit vir jaarlikse instandhouding. Maar die seine is duidelik – veral na die eens druk besige aanleg laat verlede jaar van drie na twee skofte geskuif het, en 700 werkers laat gaan het.
Die aanleg is nou weer oop, maar met die 30% heffings wat op alle C-Klasse wat daar gebou word gehef word, maak dit nie meer sakesin nie. En die nagevolge kan tragies wees vir die diep Oos Kaap en Suid Afrika se breër vervaardigingsektor.
Mercedes-Benz wil besnoei
In Stuttgart se raadsale is daar sedert die laat 1990s ‘n reeks Suid Afrikaanse beleggings gemaak, ondanks onstuimighede. Mercedes-Benz is die kern nywerheid werkverskaffer in Oos Londen, en dit is nie slegs poste by die aanleg nie. Dit is ook al die plaaslike verskaffers wat onderdele lewer om daai uitvoer C-Klasse te bou.
Met ‘n 30% heffing is Suid Afrikaan geboude C-Klasse eenvoudig nie lewensvatbaar vir Mercedes-Benz nie.
Die Duitse motor reus het in Februarie aangekondig dat wêreldwye produksie besnoeiings die voorland is. Mercedes-Benz wil minder voertuie bou, wat duurder is met groter winsgrense. En ongelukkig, is die C-Klass een van Mercedes-Benz se meer bekostigbare voertuie, wat die Suid Afrikaanse produksie nog meer moeilik maak om te regverdig binne Mercedes-Benz se 2027 strategiese planne.
Is daar reddingsplanne?
Na die skokgolf aankondiging van 30% heffings verlede week, is daar diep vrese in Oos Londen en die Suid Afrikaanse motorbedryf dat groter werksverliese die voorland is.
Daar is ‘n groeiende moontlikheid dat volgehoue Amerikaanse handelsheffings, dalk Mercedes-Benz geen keuse sal laat as om die Oos Londen aanleg te sluit nie. Met vernietigende nagevolge vir Oos Londen, waar gehalte nywerheid werksgeleenthede, met goeie lone en voordele, baie skaars is.
Die regering het biljoene befonds as aansporing vir die plaaslike motorbedryf se ontwikkeling. Nou is dit alles op die spel. Ondanks die grootste bedreiging vir Mercedes-Benz se Suid Afrikaanse nywerheidsbates, is daar klaaglik 'n noodplan.
Daar is sprake dat ander wêreldmarkte gesoek gaan word vir Mercedes-Benz se C-Klass produksie. Maar dit is wensdenkery. Enige bedryfsingenieur en voertuig bemarkingskenner weet dat plaaslike produksie en ooreenstemmende bestemmingsmarkte jare en dekades se beplannings verg; met noukeurig beplanning en handelsooreenkomste.
Motorkenners weet ook dat die kompak Duitse luukse sedan, ‘n kwynende mark is. BMW het slim gespeel ‘n paar jaar gelede, toe die historiese Suid Afrikaanse produksie van 3 Reeks, vir uitvoer, omgeskakel is na X3. Die sportnustvoertuig bakvorms is meer gewild en makliker bemarkbaar na ‘n breër verskeidendheid wêreldmarkte; gevolglik is BMW in 'n baie beter posisie as hul Duitse teenstander.
Mercedes-Benz Oos Londen bou hoëgehalte voertuie, wat met reg kan meeding in ‘n mark waar kopers net die beste verwag, soos Amerika. Maar die waarheid is dat C-Klass nie meer die kernmodel is vir Mercedes-Benz, wat dit tien of twintig jaar gelede was nie.
Die wêreldwye vraag na kruis- en sportnutsvoertuie, pleks van sedan bakvorms, is nog ‘n sterk invloed wat teen die oorlewing van die Mercedes-Benz Oos Londen aanleg tel.
Bougehalte en vaardighede is nie die kwessie hier nie. Die krisis is eenvoudig swak werklikheid besef deur Suid Afrikaanse leiers, ten opsigte van waar die broodnodige uitvoerhandel vir plaaslike motorvervaardiging is. Veral ten opsigte van Mercedes-Benz Suid Afrika.
Afrika nie die antwoord nie
Daar is voorstelle dat deel van die Amerikaanse besending uitvoer C-Klasse, herbemark kan word vir Afrika lande. Maar dit is ‘n denkfout.
Gebrekkige geseëlde oppervlak paaie en brandstofgehalte in meeste Afrika lande, beperk die bemarkbaarheid van ‘n lae grondvryhoogte sedan, soos C-Klass, met hoëdruk brandstofinspuiting enjins.
Die vraag vir nuwe voertuie in Afrika, is baie gering, en dit is meestal vir bakkies en leerraam onderstel sportnutsvoertuie. Ford Ranger/Everest, Toyota Hilux/Fortuner, en Isuzu se D-Max reeks, is die plaaslik vervaardigde voertuie waarvoor daar enigsins aanvraag is in Afrika, beslis nie C-Klass nie.
Vir Mercedes-Benz se Oos Londen aanleg en die C-Klasse wat daar gebou word, is die wêreldmark baie nouer as twintig jaar gelede. Die gedagte dat 'n bakvorm met kwynende gewildheid, maklik na allerlei nuwe markte uitgevoer kan word, is suiwer wensdenkery.
Feit van die saak is dat Amerikaners van die min wêreldwye kopers is wat nog getrou C-Klass bestel. Sonder 'n vindingryk diplomatiese ingryping deur die Suid Afrikaanse regering oor die komende paar weke, lyk die toekoms vir Mercedes-Benz se Oos Londen aanleg, baie donker.
Die Oos Londen aanleg het 'n ongelooflike erfenis. Dit was vir 'n lang tyd die enigste aanleg buite Duitsland, wat toevertrou is om Mercedes-Benz se spogmodel, die S-Klass, te bou. Sal hierdie erfenis en die bouvaardighede die huidige handelsoorlog oorleef?
Woorde en insigte deur Lance Branquinho