Tank 300 is sekerlik die beste voorbeeld dat GWM weet wat Suid Afrikaanse kopers wil hê. 

Sjinese modelle op jou sosiale media tydlyn of in die hooftrekke is gewoonlik elektriese voertuie met reuse kragsyfers en allerhande toekomgerigte bestuurstegnologie. Maar die voertuigklas waar daar woes gestoei word vir Suid Afrikaners se Rande is nie elektriese voertuie nie. Dit is die leerraamonderstel sportnustvoertuig, gebou op bakkie onderstelle. 
GWM het vandeesmaand hul teenwoordigeheid in die geharde sportnutsvoertuigklas verbreed met 'n belangwekkende Tank 300 nuweling. 

Tank 300 wei in Fortuner se kraal

Leerraam sportnutsvoertuie bied genoeg sitplek vir ‘n gesin, meer gemak as 'n dubbelkajuit bakkie, en genoeg taaiheid vir die rofste grondpaaie of uitdagende veldryroetes. 

Isuzu het dalk die mark vir bakkie-onderstel sportnutsvoertuie in Suid Afrika geskep met hul Frontier in die laat 1990s, maar dit was oudergewoonte Toyota, wat dit vervolmaak het met Fortuner in 2006. Sedertdien het die vraag na voertuie soos Fortuner, Ford’s se Everest en Isuzu se MU-X aanhou groei. 

Dit was net ‘n kwessie van tyd voor ‘n Sjinese vervaardigers, soos GWM, ‘n uitstekende leerraam onderstel sportnustvoertuig na Suid Afrikaanse voertuigsmaak sou ontwikkel. Die Tank 300 lyk soos ‘n gedugte veldvoertuig want dit is een: met ‘n geharde staal leerraam onderstel, laestrekratte, ewenaarslotte, meer grondvryhoogte en beter inval/vertrekhoeke as enige Fortuner. 

Die Tank 300 binneruim is luuks en propvol tegniese bybehore, wat dit ideaal maak vir langpadtoer of as jou daaglikse kantoor in die stadsverkeer. Meestal te danke aan die uitstekende 12.3-duim tikskerm inligtingstelsel en slimfoon skakeling van GWM se sagteware. 

Die taaiste tweewieltrek voertuig in SA?

Met rede het GWM groot welslae behaal met Tank 300 in die plaaslike mark, en die jongste reeks bykomeling is ‘n baie interessante ontwikkeling. Sedert vandeesmaand bied GWM se handelaars ook ‘n 2.4TD 2WD outomatiese Tank 300, en dit is ‘n slim strategiese skuif. 

GR-S is dalk Toyota se kroon Fortuner, maar meeste kopers wat sinvol oor hul grondpadtoer gesinsmotor behoeftes, koop ‘n 4x2 Fortuner. Met die nuwe tweewieltrek Tank 300 2.4TD, bied GWM ‘n baie taai, maar luukse, ryding vir Suid Afrikaners wat die hou van die voorkoms en grondpad vermoë van ‘n Tank 300, maar besef hulle gaan nooit ernstig veldry nie. 

Die voordele van ‘n tweewieltrek Tank 300 2.4TD is legio. Selfs die diepste teerpad slaggat sal jou nooit gestrand laat in ‘n Tank 300 nie. Die veldryveringstelsel, groot bande en onderstel se taaiheid beteken dat met selfvertoue snags op landelike teerpaaie kan bestuur met die wete dat ‘n slaggat teen spoed, nooit ‘n Tank 300 se bande, wiele of vering gaan beskadig nie. 


Genoeg vastrap vir meeste toestande

Die 2.4-litre turbodiesel enjin is oorgedra uit die bestaande Tank 300’s, en wek 135kW met 480Nm, wat deur ‘n negegang outomatiese ratkas dryf. 

Vir daai beitjie tweespoor ry op die gasteplaas, of boot uitsleep op die glipweg, het die nuwe tweewieltrek Tank 300 2.4T ‘n agteras ewenaarslot, om te help met vastrap. En dit is al wat meeste Suid Afrikaanse sportnutsvoertuig kopers werklik benodig. In alle eerlikheid, hoeveel stedelike Tank 300 4WD eienaar gebruik gereeld (of ooit) hul voertuie se laestrekratte? 

As Tank 300 se voortreflike voorkom met jou praat, en jy ‘n voertuig soek wat sonder moeite werk oor Suid Afrika se slaggat besaaide padnetwerk, is die tweewieltrek opsie uitstekende waarde. Teen R649 900 is die nuwe Tank 300 2.4T 2WD ook R50 000 goedkoper as die intreevlak vierwieltrek Tank 300. 

Woorde en insigte deur Lance Branquinho