Vir Toyota se ingenieurs en ontwerpers is Hilux se reuse sukses ook ‘n juk om te dra. Maar Toyota se belangrikste model moet ontwikkel en vernuwe, omdat die mark vir bakkies wêreldwyd al hoe meer mededingend word.

Elke tien jaar stel Toyota ‘n nuwe Hilux bekend, wat die mark verras. Sukses is ‘n moeilike tydgenoot omdat jy nooit almal tevrede kan jou nie en die 9de geslag Hilux gaan oë laat rek. 

Hilux se teenstanders soos Ford Ranger en ‘n magdom Sjinese bakkies, bied beter binneruim gemak, vermaakstelsels, en enjins. Nieteenstaande die markuitdagings, het Toyota besluit om nie veel aan die nuwe Hilux se tegniese eienskappe te doen nie.

Toyota Hilux 9th generation interior with screens and automatic shifter

Beter kragstuur

Die binneruim het 'n nuwe stuurwiel en voorpaneel. Maar Toyota weet wat bakkie eienaars werklike soek, en dit is ou-skool knoppies en draai skakelaars, wat nuwe Hilux het, pleks van die oormaat digitale raakpunte. Iets wat 'n swakheid is met verskeie van die Sjinese dubbelkajuit bakkies.

Hilux ingenieurs het ook die stuurbystand opgradeer van hidrouliese na elektriese kraghulp. Dit gaan Hilux veiliger maak in strawwe veldry omstandigede. Hoekom? Omdat die stuurwiel nie kan terugsirkel en jou vingers beseer in baie rotsagtige terrein nie – iets wat maar altyd 'n risiko is met hidrouliese stuurstelsels. Hilux se elektriese stuur draai ook vinniger teen lae snelhede, wat nuwe Hilux bietjie makliker sal maak om te parkeer.

Die 9de Hilux het ‘n byderwetse bakontwerp, maar dit het baie min nuwe tegniese eienskappe. Bakkie kenners het ‘n nuwe onderstel, enjins, en ratkaste verwag. Toyota het besluit om alles oor te dra van die huidige 8-ste geslag Hilux.

Toyota Hilux 9th generation rear view with step-up bumper

Enjin en ratkas - 'n bekende storie

Wanneer nuwe Hilux volgende jaar by plaaslike handelaars beskikbaar word sal dit steeds die beproefde 2.8 turbodiesel enjin gebruik. Met onveranderde kragsyfers van 150kW en 500Nm. Skaflike syfers, maar meeste bakkie aanhangers het so bietjie ekstra krag verwag, van die nuwe Hilux.

Wat meer pla, is die outomatiese ratkas. In ‘n mark waar Sjinese dubbelkajuit bakkies 9-spoed outomatiese ratkaste bied, en Ford Ranger ‘n 10-spoed het, is Hilux se 6-spoed ratkas net te verouderd. Waar Hilux se ingenieurs wel ‘n teenargument het, is dat die nuwe Hilux is een van die baie min dubbelkajuit bakkies sal wees wat steeds ‘n handrat bied vir luukse weergawes.

Toyota het nog nie veldry hoeke of grondvryhoogte bevestig vir nuwe Hilux nie. Maar die huidige Hilux het beproefde veldryvermoë so daar hoort geen tekortkominge te wees met nuwe Hilux se 4x4 vaardighede nie.

Toyota het ‘n reuse ontwikkelings begroting en van die beste kontantvloei van enige motormaatskappy. Daarom het bakkie geesdriftiges baie meer verbeterde ingenieurswese met die nuwe Hilux verwag. Iets soortgelyk aan ‘n kleiner Tacoma, die toonaangewende Toyota bakkie wat Ford en General Motors laat les opsê in die Amerikaanse mark.

Maar Toyota het besluit om uiters konserwatief te wees met nuwe Hilux. Dit is ‘n beproefde wenresep, maar die mark vir dubbelkajuit bakkies raak al hoe meer mededingend. Met meer stedelike kopers wat ‘n hoë verwagting vir bestuursgemak en veral agterpassasier ruimte het. Iets waar nuwe Hilux gaan sukkel om voor mededingers te bly.

Woorde en insigte deur Lance Branquinho