Niemand weet meer van geld maak met bakkies, as Toyota nie. Hilux en Land Cruiser 79 is reuse winsgeleenthede vir Toyota handelaars. Veral die verouderde Land Cruiser 79 enkelkajuit bakkies.

Kyk verby al die bemarking en erfenis van Land Cruiser se 70-reeks, en die besef is dat die ontwerp baie verouderde is. Veral die agteras wat nouer as die vooras is. Iets wat Toyota gedoen het om die groter V8 enjin te akkommodeer, maar nooit aangepas het nie. En daardie verskil in die wielspoor is beslis nie 'n wen vir hoësnelheid stabiliteit, sleepvermoë of veldry vastrapplek nie.

Die waarheid is dat Toyota steeds R1m kan vra vir Land Cruiser 79 bakkies, omdat kopers wat met veldvoertuig bakkies moet werk, nie speel nie, bereid I som te betaal vir die taaiheid. Sonder elektroniese tierlantyntjies en met baie eenvoudige ingenieurswese, hou Land Cruiser 79s dekades, pleks van jare. dit skep werklike langduur eienaarskap waarde.

Dit is ook hoekom Land Cruiser 79 bakkies so gesog is in die tweedehande mark. Die tegniese eienskappe is beproef. As iets verkeerd gaan, is dit spotmaklik om herstel.

Maar wat as jy 'n geharde veldry enkelkajuit bakkie met laai en sleepvermoë soek. Sonder elektroniese swakhede. Net so taai is soos ‘n Land Cruiser 79. Maar baie meer stabiel is vir grondpad ry, sand spoor sny, en sleep, omdat die wielsporing tussen die voor en agteras, dieselfde is (soos dit hoort)? Dan soek jy 'n Nissan Patrol Y61 bakkie.


Y61 is tegnies voortreflik

Hierdie voertuie is die enigste werklike teenstanders vir Land Cruiser 79 bakkies. Maar in die oë van werklike kenners, is daar tegniese eienskappe van die Patrol, wat dit ‘n beter plaas en algemene laaiwerk bakkie maak.

Omdat Patrol bakkies se aste dieselfde wielsporing het, loop hierdie bakkies met baie meer selfvertoue op sinkplaat grondpaaie, as 'n Land Cruiser 79, met die nouer agteras. In vergelyking met die staalraam onderstelle, het Nissan die Patrol gebou om net so gehard soos ‘n Cruiser te wees. Daarom sleep hierdie Patrol bakkies reuse vragte sonder moeite, selfs oor die strafste plaaspaaie.

Inlyn-ses enjins maak die meeste krag, met die minste vibrasie, wat hierdie enjins so gesog maar skaars maak. Dit is ook hoekom Land Cruiser se inlyn petrol enjin’s sulke legendariese duinry voertuie geword het. Maar vir plaaswerk en rots ry soek jy ‘n diesel, met die beste laespoed kloutervermoë en beheer, veral vir afdraandes.

Waar die Y61 Patrol meer bied as Land Cruiser se sessilinder diesels, is kraglewering. Albei enjins het dieselfde 4.2-liter slagvolume, maar die Patrol het ‘n laedruk turboaanjaer. Land Cruiser 79 4.2 diesel bakkies het maar yl enjin syfers (96kW/285Nm), in vergelyking met 'n Patrol 4.2 bakkie se 110kW en 371Nm.

Geharde verlyers wil nie mors met 'n turbo nie, maar hierdie Patrol enjins word nie turboaangejaag deur ‘n ingewikkelde turbo met aanpasbare geometrie en allerhande onderdele wat weerloos kan word nie. Dit is net ‘n eenvoudig ouskool turbo om laer lugdruk teen te werk.

Die eenvoudige, laedruk turbo, is wat ‘n Y61 Patrol se wonderlik maak vir hoëveld bestuurders en plaas gebruikers was nie langs die kus boer nie. Want 'n 4.2-liter diesel sonder turbo help, verloor lelik krag bo 1000m, iets wat dit nie juis kan bekostig nie – omdat hierdie ouskool bakkie diesel enjins alreeds so stadig is op die snelweg.



Beter ritgehalte as 'n 'Cruiser

Die ander tegniese eienskap wat geharde veldryers hoog ag met Patrol bakkies, is hul ewenaars. Al het die Patrol bakkies nie voorste ewenaarslotte nie (iets wat Land Cruiser 79 bakkies het), is die ewenaars baie taai, en kan baie strawwe laestrekrat werk vir duisende kilometers doen, vol gelaai, sonder meganiese risiko.

Land Cruiser 79 bakkies is bekend vir hul klipharde ritgehalte, of ewenwel: ‘n algemene gebrek aan ritgehalte. Dit is omdat Toyota ‘n bladveer vooras gebruik, wat baie gehard is, maar niks bydra vir ritgemak op grondpaaie – of 4x4 vermoë in uitdagende toestande nie.

Nissan se Y61 Patrol bakkies gebruik konkelvere op die vooras. Die gevolg is dat hierdie bakkies baie minder van ‘n besonder rowwe grondpad se ongelykhede, na die binneruim deurvoer. As jy daagliks swak grondpaaie ry, kan die ritgehalte verskil tussen ‘n Patrol bakkie met kronkelvere voor, en ‘n Land Cruiser 79 met bladvere, ‘n groot verskil vir jou lae rug se gesondheid.



Ongekenne waarde - as jy een kan kry

Met beter verrigting van die beproefde 4.2-liter diesel sessilinder enjin, uiters taai ratkaste/ewenaars, en ritgehalte was ‘n vlak bo Land  Cruiser 79 is, is daar verskeie tegniese redes hoekom die Y61 bakkies so gesog is. As geharde plaaswerk en landelike voertuie.

Dit is jammer dat Nissan die Patrol bakkie nie meer buite die Midde-Ooste bemark nie. Dit beteken dat die waarde van tweedehandse Patrols begin klim in die Suid Afrikaanse mark.

Vir kopers wat iets baie taaier as ‘n Navara of Hilux enkelkajuit benodig, en beter verrigting, gemak en laer diefstalrisiko as ‘n Land Cruiser 79 4.2 soek, is 'n tweedehandse Y61 Patrol waarskynlik Suid Afrika se bes bewaarde enkelkajuit bakkie geheim.

Woorde en insigte deur Lance Branquinho