Sjinese modelle is hoofonderwerp van elke braai of koffiewinkel gesprek oor bakkies. Deeglike toerusting vlakke en ongelooflike waarde is die trekkrag van Sjinese bakkies, maar wat van Indië? 

Vroeër vanjaar het Indië se bevolkingsaanwas Sjina verbygesteek en ook die wêreld se vierde grootste ekonomie geword. Ruimtevaart en rekenaar sagteware is waar Indiese vernuf al hoe hoër gereken word. Die tegniese vaardighede wat Indië se ekonomie verby Japan laat groei het, moet spoel ook oor na die motorbedryf. 

Meeste van Suid Afrika se gewildste voertuie word in Indië gebou. Hyundai, Kia, en Suzuki se modelle vir die plaaslike mark word hoofsaaklik van hul aanlegte in Indië verkry – iets wat min kopers besef wanneer hulle 'n Koreaanse of Japannese waardemodel koop. 

Maar wat van die suiwer Indiese motorvervaardigers? En hoe beïnvloed hulle die Suid Afrikaanse bakkie mark? 

Tata se tweede kans? 

Indië se twee anker motormaatskappye is Mahindra en Tata. Laasgenoemde het nie 'n roemryke geskiedenis in Suid-Afrika nie. 

Tata het in 2019 ontrek aan die plaaslike mark, na jare van teleurstellende bakkies en klein gesinsvoertuie. Swak bougehalte en ondersteuning het Tata se handelsnaam geknoei onder Suid-Afrikaanse motorkenners, wat diep ironies is. Tata besit Land Rover en is 'n reuse maatskappy met uiteenlopende nywerheidsbelange in staal, ingenieurswese, lugvaart, en chemikalie. 

Die belofte is dat Tata later vanjaar met meer durf gaan terugkeer na die plaaslike mark. Dit sal 'n baie slim bemarkingsplan benodig om al daai bitter Tecoline en Xenon ervarings uit die Suid-Afrikaanse kopersbewussyn te dwing. 

Mahindra is markgerig

Tata se Suid-Afrikaanse mislukking is in sterk kontras met Mahindra se vertoning. Waar die eerstegeslag Bolero en Scorpio bakkies suiwer winskoop-teenoor-waardevermindering keuses was, is Mahindra in 2025 'n gerekende bakkie handelsnaam. 

Verlede jaar was Mahindra se Pik Up die vierde gewildste bakkie in Suid-Afrika, en dit kan nie alleenlik afgemaak word op afslagpryspunte nie. Die werklikheid is dat Mahindra oor die laaste 15 jaar moeite gedoen het om die Suid-Afrikaanse mark te begryp en daardie insigte het 'n beduiende invloed. 

Soos die mark vir R1m weeldebakkies groei, is daar steeds 'n groot vraag vir geharde bakkies teen billiker pryse, vir middelslag kopers. Bakkies met 17-duim wiele, hoe volume veldrybande, lae elektroniese beheerstelsel inhoud en diesel enjins wat nie stik aan swak brandstof nie. Dit is presies wat Mahindra bied met die Pik Up reeks. Dubbelkajuit bakkies wat jare se grondpad kan kou sonder klagtes, en in die langduur laer sagteware risiko en enjin weerloosheid het. 

Geharde diesel enjins

Mahindra se 2.2-liter diesel enjin is nie naastenby so kragtig soos duurder of Sjinese mededingers nie. 

Al wek die Pik Up se enjin slegs 103kW en 320Nm, is hierdie enjins ontwikkel is deur Indiese ingenieurs wat 'n sterk begrip het van stof en waterbesoedeling in brandstof, oorlaai sleeptoestande en verrigting in hoë temperature. Alles kenmerke van die Suid-Afrikaanse bestuursomgewing. Dit is ook een van die hoofredes hoekom Mahindra se bakkies so gewild geraak het onder plaaslike kopers: diesel enjins wat nie skrik vir plaaslike toestande nie. 

Mahindra se enkelkajuit Pik Up bakkies is nommerpas vir wat boere, siviele ingenieurspanne, mynbou personeel in 'n bakkie soek. Beproefde dravermoë, 'n kanniedood diesel enjin, en net genoeg binneruim gemak en veiligheidstoerusting, sonder die swakheid van teveel elektroniese weelde wat kwesbaar kan word op die langduur. 

Die opregte boere bakkie

Daar is nie meer ‘n amptelike plaaslike motorskou nie, maar vrae kranige motorbemarkers waar hulle hul skougeld spandeer, en dit is NAAMPO. Die jaarlike landbou saamtrek by Bothaville trek duidende van Suid Afrika se mees gesoute bakkie eienaars en al die groot vervaardigers haal uit en wys om teenwoordig te wees by die skou. 

By NAAMPO is daar nie plek vir wegkruip nie. Boere vra reguit vra oor betroubaarheid, diensondersteuning en prys. Jaarliks is Mahindra se teenwoordigheid by NAAMPO al groter wat kenmerkend is van die Indiese maatskappy se selfvertoue in die Suid-Afrikaanse mark. Mahindra se indrukwekkende groei in Suid-Afrika gee ook kopers die gemoedsrus van 'n groeiende handelaarsnetwerk en beproefde onderdele verskaffingsketting. Albei belangrike kwessies vir kopers wat buite die tradisionele Amerikaanse en Japanse bakkie modelreekse hul geld wil spandeer. 

Wanneer jy diep begin ondersoek doen oor Mahindra, begin die geharde gehalte van hul Pik Up bakkies sin maak. Enige maatskappy wat 'n gedugte trekker kan bou, moet noodwendig ook 'n gehalte bakkie kan ontwikkel? Dit is die onderliggende ingenieurswese wat min mense besef met Mahindra, hulle is ook die wêreld se grootste trekker bouer. 

Wanneer landery geploeg moet word in Limpopo se liederlike somerhitte of die Oos-Vrystaat se winternsneeu, is daar nie tyd vir verskonings met trekkers nie. Prysgesinde bakkie kopers begin al hoe meer ontdek dat daai trekker ingenieurswaardes ook van toepassing is op Mahindra se bakkies. 

Kopers wat ‘n eerlike dubbelkajuit soek vir daai skoolvakansie toere deur Botswana en Namibië, draai met rede na die beproefde eenvoud van Mahindra se Pik Up bakkies. Met die vertroue van ‘n langtermyn eienaarskap ervaring,  waar angs oor diesel gehalte en sagteware kinkels baie meer gering is as R1m dubbelkajuite. 

Woorde en insigte deur Lance Branquinho