Onafhanklike bakkie vervaardigers is min. Voertuigontwikkeling is duur, veral met al die botsingsveiligheid en uitlaatgas vereistes, en vir privaatkapitaal om 'n deurbraak te maak, is amper ondenkbaar. 

Maar die wêreld se mees bedrewe dubbelkajuit bakkie is van 'n trots onafhanklike vervaardiger: Ineos. Die beginsel agter Ineos se veldvoertuie is eenvoudig: alles van die vorige geslag Land Rover Defender, met gevorderde elektromeganika. 

Die Britse motormaatskappy ken van selfdoen en al is Ineos se Grenadier 'n nisvoertuigreeks, sit die ingenieurs nooit stil nie. Ineos se jongste ontwikkeling is die Trailmaster X LETECH. Amptelike ombouings aan die Grenadier stasiewa en Quatermaster dubbelkajuit wat veldryvermoë het wat ‘n Land Cruiser 70 of Ranger Raptor sal skaam maak. 

Wat die Trailmaster X LETECH Ineos veldvoertuie so gedug maak, is Duitse portaal aste. Geharde veldvoertuig kenner weet dat portaal aste ‘n reuse hoeveelheid grondvryehoogte beskikbaar maak.

Duitse kennis waar dit saak maak

Mercedes-Benz se legendariese Unimog lorries gebruik vir dekades portaalaste en is van die gerekendste veldvoertuie, en Duitse ingenieurs ken van portaalaste bou. 

LETECH is 'n veldvoertuig spesialis van Stuttgart en hulle voorsien die portaal aste en ander onderdele wat die Ineos se nuwe Trailmaster X voertuie moontlik maak. Wat is nou juis die voordeel van portaal aste? Met 'n ratstel net binne die wielmonteerpunt, kan 'n portaal as baie hoër monteer word, pleks van in-lyn met die wiel se middelpunt. Daai hoër as monteer punt beteken baie meer grondvryhoogte. 

Die LETECH ombouing lig Ineos se Grenadier en Quatermaster met 'n reuse 186mm. En dit is nie voorkoms hoogte vir pronk by 'n strandfront parkeerterrein nie, dit is waardevolle grondvryhoogte onder die voertuig. Die Trailmaster X LETECH voertuie het 450mm grondvryhoogte, wat beteken hulle kan aanhou verken lank na 'n Ranger Raptor (272mm) en Land Cruiser 70 (235mm) omgedraai het of veldryskade opgedoen het. 

Water deurgang vermoë is ook beter as wat meeste bestuurders moed voor sal hê, met 1050mm se diepte gradering. Net die ding vir daai oorstroomde laagwater brûe, wat jou langnaweek lelik in die mou kan rol, as jy op pad is na 'n plattelandse wegbreek plek. Met die Trailmaster X LETECH se watervermoë sal jy aanhou toer op roetes waar ander 4x4 bestuurders eerder moet omdraai en opgee. 



Lag-lag deur verspoelings

Water hindernisse is van die hoogste risiko en mees skadelike veldry uitdagings, wat selfs geharde 4x4 kenners laat twyfel aan hul vaardigede en voertuie se vermoë.

Ford se Ranger Raptor is 'n besonderse dubbelkajuit veldry bakkie, met 850mm se water deurgang vermoë. In vergelyking het Ineos se Trailmaster X LETECH bakkie 23% dieper water hindernis vermoë (met 1050mm se diepte). Dit is deurslaggewend. Hoekom? Soos ervare veldryers sal erken: wanneer dit kom by water hindernisse, tel elke ekstra millimeter. 

Om voornemende eienaars die beste veldry bestuurservaring te gee, het LETECH verskeie versterkings gemaak aan die Ineos se onderstel, met versterkte vyfskakel voor vering. Die hoër grondvryhoogte beteken ook 'n hoër swaartepunt, en Ineos het die voertuie se rem en stabiliteit beheer stelsels aangepas hiervoor. 



Gebou vir veldry sonder verskonings

Bande is 'n deurslaggewende deel van enige veldvoertuig en die Trailmaster X LETECH voertuie rol 37-duim BFGoodrich’s op 8.5×18-inch ET55 Hutchinson bandrand sluitende wiele. 

Michelin is dalk Frankryk se bekendste band vervaardiger, maar Hutchinson is 'n voorkeurverskaffer vir die Franse weermag, veral voertuie wat met aanpasbare banddruk stelsels in die gehardste toestande moet werk. Die ET55 Hutchinson bandrand wiele beteken veldry met banddruk onder 1-bar kan met selfvertoue gedoen word. Sonder om 'n band van die wiel af te gooi as daar skerp gedraai moet word in veldry toestande, soos sand ry, met baie lae banddruk. 

Dit is ondenkbaar dat iemand die met 'n Ineos Trailmaster X LETECH ooit sal vasval, maar as dinge skeefloop is daar ? 4500kg Warn Zeon 10 wenas tot die redding. 

Ineos se dubbelkajuit bakkies en veldvoertuie is 'n nismark in Suid Afrika. Maar met BMW gelidses enjins, ZF se meesterlike agtgang outomatiese ratkas en 'n beproefde staal leerraam onderstel, is Ineos se modelle die droom veldryvoertuie vir menigte. Met hierdie nuwe X LETECH ombouing, bied Ineos ongetwyfeld die kranigste veldry bakkies wat jy kan koop, sonder om 'n vragmotor bestuurlisensie aan te skaf vir Unimog eienaarskap. 

Woorde en insigte deur Lance Branquinho