Sjina se toonaangewendste motormaatskappy, is nou sy getrouste Amerikaanse belegger kort.

BYD se welslae is bekend. Die wêreld se mees suksesvolle elektriese voertuig maatskappy het oor die laaste paar jaar verby Tesla beweeg. In tegnologie en verkope.

Met 'n stigter en bestuurspan wat ingenieurs en battery kenners is, pleks van rekenkundiges, was BYD se tegnologiese oorheersing altyd voorspelbaar. Met 'n reuse voorsprong in battery en elektriese dryfstelsel kennis oor hul Europese en Amerikaanse teenstanders, is BYD se modelreeks die wêreldstandaard vir elektriese voertuie.

Die wêreld se kundigste belegger, Warren Buffett, het sewentienjaar gelede 'n groot aandeel in die toe onbekende BYD gekoop. Dit was op aandrang van Buffett se dekadeslange vriend en sakevennoot, Charlie Munger. Die twee, as beherende aandeelhouers in Berkshire Hathaway, is sonder twyfel die beste finansiële beleggers in die geskiedenis. Hulle koop amper nooit 'n verlorende aandeel nie. 

Reuse wins met BYD belegging

In 2008 het Berkshire Hathaway 225m BYD aandele gekoop vir $230m. Dit was 'n tyd toe Sjinese motors lagwekkend swak was. En voor Tesla enigsins die wêreld laat wakker skrik het vir die moontlikheid van elektriese motors.

Berkshire Hathaway aandeelhouers en motorbedryfkenners het gedink Buffett en Munger is albei die klits kwyt. Maar soos gewoonlik, was hul insig en voorgevoel uitstekend. Buffett was nog altyd vol lof vir BYD se bestuurspan.

Die belofte wat Munger in BYD gesien het, is beloon en Berkshire Hathaway se aandeelhouding het met 'n yslike 3890% gegroei, tot vandeesjaar. En nou, het Buffett die wins geroep en besluit om te verkoop, na 'n uitstekende BYD aandeelgroei oor die afgelope 17 jaar.

As die wêreld se bekendste en mees bedrewe belegger, is enigiets wat Buffett doen, van reuse invloed op die markte. Wat beteken die verkoop van Berkshire Hathaway se hele BYD aandeelhouding?

Daar is geen twyfel dat BYD se tegnologie steeds toonaangewend is nie. Die reuse groei van BYD, en vooruitskatting wat deur mark geskep is, het dalk te warm geraak. En daar is toenemend risiko faktore op BYD se volbouhare groei.

Beperkings vir BYD se groei

Amerika se wêreldwye handelsoorlog met Sjina, beperk die moontlikheid dat BYD se modelle binnekort in die Noord Amerikaanse mark sal kan verhandel. Sjina is dalk die wêreld se grootste mark in verkope, maar Amerika is die winsgewendste mark. En 'n groot deel van die BYD se toekomsgroei verhaal, is geanker op toegang tot die Amerikaanse mark. Iets wat nie in die nabye toekom, moontlik lyk nie.

BYD het ook noemenswaardige beleggings gemaak in Mexiko, om die handelgrense te om seil, om sodoende toegang tot die Amerikaanse markte te kry. Maar die Trump administrasie se handelsheffings het hierdie agterdeur vir eers gesluit.

Sjina se binnelandse befondsing en vervaardigings beleid hou ook 'n risiko vir BYD. Daar is groeiende twyfel oor die werklike kontantvloei en gesondheid van die Sjinese motorbedryf, wat honderder vervaardigers het, van wie baie nooit winsgewend kan wees nie. En slegs oorleef op plaaslike produksie en indiensnemings kwotas.

Drukpunte vir BYD

BYD is kroonjuweel in Sjina se motorbedryf. Met verskeie modelle wat in baie opsigte wêreldleiers is. BYD se battery, onderstel integrasie, elektriese motor, en sagteware tegnologie is steeds jare voor selfs die beste Duitse vervaardigers.

As daar binnekort 'n groot regstelling in binne Sjina, ten opsigte van nywerheidsbeleid en motormaatskappy befondsing, sal dit BYD se groei ook knou.

BYD se stigter, Wang Chuanfu, is steeds in beheer van die maatskappy. Hy word ongelooflike hoog aangeslaan deur Buffett. Chuanfu se kennis van elektriese voertuig battery chemie, het geen gelyke in die motorbedryf nie en as enigiemand die tegnies gevorderde motormaatskappy deur ‘n uitdagende tydperk kan lei, is dit Chuanfu.

Die prysoorlog vir oorlewing tussen Sjinese motor maatskappye sal BYD se winsgrense vernou, sonder die geleentheid van 'n Amerikaanse mark wat oopmaak om winste te voorsien. Na 'n uitstekende opbrengs sedert 2008, is dit duidelik hoekom Warren Buffett besluit het om Berkshire Hathaway se BYD aandeelhouding in geheel te verkoop. Voor die mark begin stormgolwe ry.
 

Woorde en insigte deur Lance Branquinho