Die meeste mense het grootgeword met die idee dat 'n bakkie 'n werkesel is wat veral op boere en sakeondernemings gemik is.
Dit was inderdaad die geval tot omtrent die 1970's toe kenmerke wat as luukshede beskou is, eers opsionele ekstras en later standaardtoerusting geword het. Op daardie stadium was veiligheidstandaarde ook glad nie belangrik nie en hoewel sitplekgordels in 1965 verpligtend vir passasiersmotors geword het, was dit nie met bakkies die geval nie. Dit het gemaak dat dit, selfs met 'n vloergemonteerde rathefboom, moontlik was om drie mense op 'n banksitplek te laat sit. Daarby was bakkies soms goedkoper as motors, met die gevolg dat sommige van hulle as alternatiewe vir motors gekoop is. Daar is sommer 'n matras in die laaibak gegooi en twee of drie kinders kon maklik agterin sit, veral as 'n kappie aangebring is. Die idee van 'n bakkie as 'n alternatief vir 'n motor het toe al by sekere gesinne posgevat.
Veral die bekendstelling van halftonbakkies soos die Mazda F 1000, die Datsun 1000 en die Mitsubishi Colt 1100 het gemaak dat mense bakkies as tweede motors gekoop het, en veral vir jong mans wat pas begin werk of studeer het, was dit 'n aantreklike alternatief vir 'n gewone motor. Hulle kon byvoorbeeld vragte help aanry of mense help verhuis, en dit het vir hulle 'n inkomste besorg. Die Australiese vervaardigers se Utes (wat gestaan het vir Utility vehicles) is gebruik om woonwaens mee te sleep. Die Holden HD was die eerste een wat hier bekendgestel is, en later is hy deur die groter HK, HT en HG vervang. Laasgenoemde model was die voorloper van die oorsrponklike Chevrolet El Camino. Ford het die Ranchero vir die eeerste keer in 1969 in Suid-Afrika bekendgestel. Dit was 'n Amerikaanse modelnaam, want hierdie model het in Australië as die Falcon Ute bekendgestaan. Chrysler het tot 1973 gewag om die Valiant Rustler, gebaseer op die Australiese VH Fastbody, in Suid-Afrika bekend te stel. Die Holden HQ -gebaseerde Chevrolet El Camino was 'n wenner, en een van die heel gewildste modelle in General Motors se hele reeks, veral met die vyfliter V8-enjin. Die brandstofkrisis het egter gemaak dat hulle aan die mark onttrek moes word. Die groter Amerikaanse bakkies soos die Ford F 100 en F 250, die Chevrolet C 10 en C 20 en die Dodge D 100 en D 200 was nie net gewild onder boere nie, maar die polisie het aldrie gebruik. Die Dodge was die eerste van hierdie bakkies wat met 'n outomatiese ratkas beskikbaar was, terwyl die Ford F 100 later ook hierdie opsie gebied het. Toe die tydskrif Car die F 100 in 1974 getoets het, was hul toetsvoertuig toegerus met 'n outomatiese ratkas, 'n lugversorger en 'n radio. Die redaksie het gesê dat hierdie drie kenmerke die kajuit 'n baie gemaklike plek gemaak het vir diegene wat lang ure agter die stuur van 'n bakkie deurbring. Die Ford F 250 4x4 was uiters gewild, nie net onder boere nie maar ook onder avontuurreisigers. Dit was die eerste vierwielaangedrewe bakkie naas die Land Rover wat wyd byval gevind het.
Die ontwikkeling van eentonbakkies het, veral in die laaat 1970's en 1980's, momentum gekry. In 1974 is die Toyota Hilux de Luxe met 'n outomatiese ratkas bekendgestel, maar mense het hom nie ernstig opgeneem nie. Nog 'n nuwigheid wat aanvanklik as 'n foefie beskou is, was 'n dubbelkajuitbakwerk. Die Volkswagen Transporter was die eerste een, maar hy het net drie deure gehad, twee aan een kant en een aan die ander kant. Die dubbelkajuit soos ons dit vandag ken, het ontstaan toe die Daihatsu F 118 BW in 1972 bekendgestel is. Leyland het die Daihatsu-konsessie in Suid-Afrika behartig en die Daihatsu-bakkies kon nie regtig met mededingers van Toyota, Mazda en Datsun saamgesels nie. Toyota het in die vroeë 1970's twee mededingers in dieselfde segment in die veld gestoot. Benewens die Hilux is die Corona Merk 2-bakkie in 1970 bekendgestel; dit was 'n bakkieweergawe van die Corona 1900 Merk 2, maar met 'n kleiner enjin. Aanvanklik was sy enjinkapasiteit 1,5 liter maar dit is gou na 1,6 liter vergroot. Dit was nie bedoel as 'n werkesel nie, eerder as 'n alternatief vir 'n motor, soos die laaibak wat vas aan die kajuit was, die agterligte in die hoeke aan weerskante van die agterklap en die knip waarmee die agterklap oopgemaak is, bewys het. Toe die Corona 2000 Merk 2 in 1973 bekendgestel is, was daar nie 'n bakkieweergawe nie en Toyota het eerder 'n tweeliterweergawe van die Hilux, bekend as die De Luxe, bekendgestel. Teen die einde van 1971 het Ford vir 'n reuse verrassing gesorg deur 'n bakkieweeergawe van die Cortina Merk 3 bekend te stel. Hoewel sy loonvrag net 'n driekwartton was, was hy geskik om as werkesel gebruik te word, Die 2,5 liter V6-enjin is later gebruik, en toe die Cortina Merk 4 in 1977 bekendgestel is, het die 1 Tonner, met 'n keuse van 'n 1,6 liter- of drieliterenjin gevolg. In 1979 het drie vervaardigers rewolusionêre bakkies bekendgestel. Die Toyota Hilux en Isuzu KB was die eerste twee eentonbakkies wat met vierwielaandrywing beskikbaar was, en die Isuzu het die keuse van 'n dieselenjin gebied. Daarby het Toyota en Ford bakkies vir die ontspanningsmark bekendgestel,naamlik die Hilux 2000 5-spoed (later SR 5) en die 1 Tonner 3000 Leisure. Albei hierdie bakkies het straallaagbande gehad; die Toyota is met kantstrepe toegerus en die Ford met 'n tweekleurbakwerk en materiaalsitplekke as standaardtoerusting. Dit het mense laat besef dat bakkies nie net werkesels was nie.
Dit is onmoontlik om elke vervaardiger se bakkiereekse te bespreek, maar die een bakkie wat seker die grootste invloed op die mark gehad het, was die Toyota Hilux 4x4-dubbelkajuit, wat in 1984 bekendgestel is. Om een of ander rede was Toyota minstens vyf jaar lank die enigste mededinger in hierdie segment, en mededingers het daarna eers wakker geskrik. Van toe af was daar geen keer nie, en dubbelkajuite het so gewild geword dat mense hul motors vir hierdie tipe bakkies verruil het. In 1981 het Datsun/Nissan die King Cab-weergawe van die 720-bakkie bekendgestel. Die Toyota Hilux en Isuzu KB het die mark op daardie stadium oorheers, en hierdie konsep het eers posgevat toe die Mitsubishi Colt Clubcab in die vroeë 2000's op die mark gekom hett. Die meeste vervaardigers het daarna soortgelyke modelle by hul reekse gevoeg; met agterdeure wat agter geskarnier was en saam met die voordeure soos dié van 'n hangkas oopgemaak het. Daar was ook kompartemente agter die sitplekke vir gereedskap, skootrekenaars of ander los items. Sommige mense het hierdie kajuit-en-'n half-bakkies gebruik om passasiers te veorvoer en selfs sitplekke vir hulle gemonteer omdat belansting op toegevoegde waarde vir heirdie bakkies teruggeëis kan word en nie vir dubbelkajuite vir privaatgebruik nie,. Die plek vir gereedskap en ander los goedere binne die veilige omgewing van 'n kajuit het vergoed vir die kleiner laaibak.
In 2007 het Chinese vervaardigers die mark met 'n knal getref maar net GWM het oorleef. Gonow, Meiya en Soyat was drie ander Chinese vervaardigers wat soortgelyke bakkies, almal met die 2,8 liter Isuzu-turbodieselenjin of 'n 2,2 liter-petrolenjin gebaseer op die Toyota 4Y-blok, vervaardig het, maar daar was niks wat een van die ander een onderskei het nie. GWM het sy produkreeks egter uitgebrei en verbeter. JMC het ook 'n tyd lank sukses met 'n soortgelyke bakkie behaal maar later. 'n nuwe modelreeks in sy plek bekendgestel. Foton het dit ook gedoen, en met die dieselenjinvervaardiger Cummins saamgespan, maar mettertyd aan die mark onttrek. Die vervaardiger het eers onlangs sy hertoetrede aangekondig en is van plan om die Tunland-bakkies plaaslik te vervaardig. Mahindra is wel van Indiese eerder as Chinese herkoms, maar die Pik Up-bakkie word in Durban gemonteer en bied 'n goeie alternatief vir diegene wat na 'n werkesel soek en vir wie die Japanse bakkies te duur is.
Die gevestigde vervaardigers het wel die laaste paar jaar voortgegaan om bakkies as werkesels te bemark. Toe die Nissan Navara bekendgestel is, is die NP 300 Hardbody as werkesel behou, maar intussen is hy aan die mark onttrek. Die Isuzu D-Max Gen 6 leef ook voort te midde van die bekendstelling van die duurder sewende geslag en selfs die gewone 2,5 liter dieselenjin wat 58 kW lewer, word behou. Die GWM Steed 5 word ook steeds as werkesel bemark terwyl die P-reeks op die ontspanningsmark gemik is. Die enkelkajuitweergawe van hierdie reeks beskik egter oor 'n lang en diep laaibak wat uiters geskik vir werksdoeleindes is.
Die laaste tyd is bakkies al hoe meer gevorderd en gesofistikeerd, en dit maak hulle buitensporig duur. Die Ford Ranger Raptor is die beste voorbeeld hiervan. Benenwens weelde-en veiligheidskenmerke wat met dié van motors vergelyk kan word, het die Raptor 'n gespesialiseerde veerstelsel wat dit moontlik maak om teen buitengewone hoë snelhede in die veld te ry. Die nuwe Raptor word deur 'n petrolenjin aangedryf, en dit maak hom uiters swaar op brandstof. Dit is maar net een voorbeeld van 'n bakkie wat 'n motor wat toevallig 'n vrag kan dra eerder as 'n werkesel is. Bakkievervaardigers tree deesdae soos kinders op omdat die een beter as die ander een wil wees, en maak dat pryse die hoogte inskiet. Selfs 'n Toyota Land Cruiser kos 'n miljoen Rand. Aan die ander kant is daar géén alternatief vir die avontuurreisiger nie, en enigiemand wat 'n ander bakkie vir avontuurreise wil gebruik, moet twee keer dink.
Dit is asof die vervaardigers mal geword het en te gretig is om aan 'n veeleisende publiek se behoeftes te voldoen. Dis tyd dat bakkies weer gebruik word vir die doel waarvoor hulle oorspronklik ontwerp is.
Daantjie Badenhorst vir Stuurwiel in samewerking met
proudly CHANGECARS