• Daar is min luukse veldvoertuie in die mark, wat 'n staal leerraam, onderstel het.
  • Land Cruiser 300 is die kroon veldvoertuig in Suid Afrika. Maar kan die Sjinese 'n ‘Cruiser 300 mededinger bou?
  • Jetour wil daai vraag beantwoord met die G700, 'n taai leerraam luukse veldvoertuig.

Jetour maak opslae in Suid Afrika met die T1 en T2 kruisvoertuie. Hierdie Jetour modelle het dalk nie vaste aste, sluitbare ewenaars of laestrekratte nie, maar die bakwerk herinner sterk aan die Defender, en dit is al wat tel.

Verkope van die Jetour T1 en T2 kruisvoertuie is asemrowend. Jetour Suid Afrika het in die eerste deel van 2026, die derde Sjinese handelsnaam geword, om 'n top tien passasiers verkoop ranglys te betree. Die gewildheid van so ‘n nuwe handelsnaam, in die mededingende sagte veldvoertuig mark, spreek ban die vindingryke en bemarkingsaansin van Jetour se voertuie in Suid Afrika.

Sjinese 'Land Cruiser'

Jetour G700 in dry open off road terain

Vir Jetour, wat ‘n onderafdeling van Chery is, is daar ‘n marknis waar hul graag wil wees. Veral in die Suid Afrikaanse mark: geharde velgrootte 4x4 stasiewaens. GWM het bewys hoe gretig Suid Afrikaanse 4x4 kopers is vir waarde, met die Tank 300 reeks wat so goed verkoop. Het Jetour ‘n Tenk 300 en Land Cruiser 300 teenstander? Ja, ‘n enorme een.

Die Jetour G700 is ‘n reuse veldvoertuig wat ontwerp is vir suiwer veldry. Dit is groter as ‘n Land Cruiser 300 en het ‘n staal leerraam onderstel. Wat beproef is vir klipharde veldryroetes.

Met 230mm se grondvryhoogte skrik die G700 nie vir veldry nie. Tog is daar is vrae. Die kragbron is ‘n herlaaibare inprop hibried stelsel, wat ‘n 2.0-liter turbopetrol enjin en groot battery stelsel saamvleg. Kraglewering is iets wat die verbeelding aangryp, teen 665kW en 1 135Nm. Maar die kwessies is G700 se gewig…

Koop 'n gehalte nuwe of gebruikte Jetour op Stuurwiel

Groot krag - min sleepvermoë

Jetour G700 cutaway image with chassis deatils

Daai battery is swaar en die G700 weeg bykans 3000kg; omtrent 400- tot 500kg swaarder as ‘n Land Cruiser 300. Dit beteken dat sleepvermoë maar beperk is, ten spyte van die reuse kragsyfers en daai leerraam onderstel, wat gewoonlik ‘n 3500kg sleepgradering waarborg.

Jetour se G700 mag slegs 2500kg sleep, omdat dit so swaar is en die gekombineerde voertuig en sleepmassa oorskry sal word.

Die G700 het verbysterende 0-100km/h versnelling (4.6 sekondes). Vir Suid Afrikaners in die Defender en Land Cruiser 300 markte, tel sleepvermoë, laaivermoë en reikafstand baie meer.

Jetour se G700 het dalk teveel krag en gewig, om werklik sin te maak vir plaaslike veldrytoestande. Dit is ongetwyfeld ‘n baie indrukwekkende voorbeeld van wat Jetour se tegniese mense kan doen.

Dit wys ook dat Sjinese ingenieurs besef hoe winsgewend die leerraam onderstel 4x4 voertuig mark is. En omdat Sjinese vervaardigers so vinnig leer, moet niemand verbaas wees as die G700 in die toekom ‘n sterk turbodiesel enjin kry nie, om loodreg met Toyota se Land Cruiser Prado en 300 mee te ding.

Wanneer kan Suid Afrikaners die G700 verwag? Met Jetour wat so goed doen plaaslik, en die G700 wat klaar ontwikkel is, is daar geen twyfel dat G700 voere of later by Suid Afrikaanse handelaars sal wees nie. Die G700 is reeds in die Midde-Ooste beskikbaar, en 'n bekendstelling datum vir Suid Afrika, behoort nog in 2026 te gebeur.

Koop 'n gehalte nuwe of gebruikte Jetour op Stuurwiel

4x4 insigte deur Lance Branquinho