Die vergete veldvoertuig handelnaam het nuwe leiding in Suid Afrika, en groot planne vir die toekoms. 

Plaaslik oorheers Toyota die marke vir gesinsvoertuie wat met selfvertroue grondpad kan aandurf. Subaru het ten beste 'n nisteenwoordigheid in die Suid Afrikaanse mark; maar in baie wêrelddele waar kopers vereistes het vir gesinsvoertuie wat strawwe grondpaaie en ligte veldryroetes kan kafdraf, is Subaru baie gewild. 

In Noord Amerika, waar kopers die koopkrag het om te kies en te keer, wen Subaru gereeld eienaarskap tevredenheid en vertroue peilings. Plaaslik, is Subaru eienaars 'n toegewyde minderheid. Mense wat voertuig eienskappe ag, wat deur meeste kopers misreken word. 

Vermoë bo voorkoms

Subaru se voertuie het nie spog voorkomste nie. In 'n mark waar Sjinese sportnuts- en kruisvoertuie uitstekende toerustingvlakke en waaghalsige ontwerp lewer, word Subaru maklik misgekyk. Dit is jammer, omdat daar wesenlike redes is hoekom hierdie Japannese vierwieltrek voertuie sulke getroue eienaars het. 

In beginsel behoort Subaru baie beter te doen in die plaaslike mark. Suid Afrika is 'n mark waar die gedagte van 'n gesinsvoertuig, met werklike grondpadvermoë, 'n lae swaartepunt, en goeie bougehalte, baie waarde bied. Die werklikheid is dat baie Suid Afrikaanse kopers nie besef wat Subaru werklik bied nie. 

Nuwe STi op pad?

As jy gaande is oor Japannese verrigtingsmotors, is Subaru se tydrengeskiedenis en Impreza WRX/STi alombekend. Maar die tydren begeesterde padmotor, as 'n teenstander vir AMG se 35- en 45- Reeks modelle, of BMW se hoëverrigting 1 Reeks, is iets van die verlede. Of is dit?

Subaru het onlangs hernuwings vir die STi naam by die Amerikaanse patente kantoor ingedien. Dit sal verseker hoop skep vir historiese Impreza WRX/STi eienaars, wat verlang na 'n nuwer weergawe van Subaru se gesogte Impreza verrigtingsmotors. 

In 'n mark waar Toyota die grondpad gesingsvoertuig mark oorheers, en kompakte verrigtingsmotors amper almal Duits is, wat bied Subaru kopers? Dinge wat saak maak as jy avontuurlustig wil toer met jou gesin: grondpadvermoë, vierwieltrek, 'n lae swaartepunt, en goeie bougehalte. 

Beter as meeste kruisvoertuie 

Subaru se gesinsvoertuie lyk nie na geharde grondpadtoer voertuie nie. Voorkoms verbloem hierdie stasiewaens se tegniese eienskappe.

Meeste middelslag kruisvoertuie en sportnutsvoertuie belowe goeie grondpadvermoë, sonder om werklike vierwieltrek stelsels te bied. En die waarheid is dat 'n hoofsaaklik voorwieltrek voertuig, met 'n koppelaarstel wat op-vraag krag na die agteras stoot, nooit dieselfde grondpadvermoë as 'n werklike vierwieltrek stelsel met 'n middelewenaar kan bied nie. 

Jare se wêreld tydren oorwinnings en 'n bemarkingspan wat glo in die veiligheidskenmerke wat vierwieltrek bied op nat paaie of los grondpadoppervlaktes, beteken dat Subaru se ingenieurs ken van vierwieltrek. Daar is geen plaasvervanger vir 'n meganiese middelewenaar nie, dit is hoekom Subaru is een van die min vervaardigers is wat nog die kern middel- tot hoëspoed voordele van 'n meganiese vierwieltrekstelsel bied. 

Hoekom maak dit saak? Omdat somer donderstorms op die hoëveld binne oomblikke verspoelings kan veroorsaak. Dan wil jy die selfvertroue hê van 'n gehalte vierwieltrekstelsel wanner jy diesel, nywerheidsolies, en allerlei ander gly vloeistowwe tref in die middel van 'n lang, hoëspoed, teerpad draai. 

Steil oprit en reënweer? Geen probleem

Dan is daar ook die invalshoek inrit voordeel. As jou huis of wooneenheid 'n besonder steil oprit met 'n draai het, gaan 'n gewone tweewieltrek kruis- of sportnutsvoertuig sukkel om daar op te kom in reënweer. Subaru se vierwieltrek gesinsvoertuie sukkel nooit om by die garage ingang te kom aan die einde van 'n nat, steil oprit nie...

Buite die uitstekende meganiese vastrapvermoë wat Subaru se vierwieltrekstelsel bied vir nat paaie, of enige chemiese vloeistofhindernis, is grondpaaie waar die aandrywingstegnologie werklik uittroon. 

Jy wil nooit in die middel van 'n lang grondpad draai begin voel hoe jou tweewielvoertuig se stuurgevoel begin vervaag nie; want dit is die eerste teken dat jy nie meer in beheer gaan wees nie. Dit is waar 'n vierwieltrekstelsel, met 'n middelewenaar, seker maak dat jy die beste verdeling van wringkrag na al vier wiele het, om die balans tussen stuurinsette en kloukrag te verseker. 

Voorwieltrek veldvoertuie wat nou en dan wringkrag na die agteras stoot met 'n reaktiewe koppelaar, kan nooit dieselfde hoësnelheid grondpadklou vermoë bied wat 'n werklike vierwieltrekstelsel het nie. 

Enjinontwerp soos 'n 911

Buiten die meganiese klouvermoë op al vier wiele, is die ander Subaru kenmerk wat meeste Suid Afrikaners nie begryp nie, die swaartepunt eienskappe. 'n Laer swaartepunt is altyd voordelig. Dit beteken minder neusduik wanneer jy noodrem, en minder bakrol as jy in 'n noodsituasie om 'n hindernis moet stuur. 

Maar met voertuie wat grondpad- of veldryvermoë het, is daar 'n natuurlike spanningpunt tussen die vraag na grondvryehoogte, en 'n lae swaartepunt. Subaru se oplossing is hul benadering tot enjin bou, wat die Porsche 911 beginsel volg: horisontaal teenoorgestelde silinders (wat ‘plat’ let tussen mekaar). Die nagevolg? 'n Baie laer swaartepunt, sonder om grondvryehoogte te beïnvloed. 

Met die enjin se gewigspunt baie laer in 'n Subaru Forester of Outback se onderstel, is daar baie meer stuurvastigheid wanneer jy indraai op 'n los oppervlak pad. Sonder om grondvryehoogte in te boet.

Al die grondvryehoogte wat jy benodig

Subaru se vierwieltrek stasiewaens het verbasend goeie grondvryehoogte. Dit maak 'n reuse verskil maak wanner jy 'n verspoelde grondpad moet trotseer, of op 'n verouderde tweespoor veldroete moet ry, met 'n hoër-as-verwagte middelmannetjie. 

Toyota se geharde en gewilde Fortuner het 225mm grondvryehoogte. Subaru se stasiewaens, wat baie beter stadspendel vermoë en snelweg toer gemak bied as enige Fortuner, het grondvryehoogtes wat baie nader aan 'n Fortuner is wat meeste Suid Afrikaners besef? Subaru se Forester het 220mm grondvryhoogte en Outback 213mm. 

Ervare veldryers en avontuur voertuig kenners het hoë agting vir Subaru. Voertuie wat ontwerp en gebou word vir die suiwer doel om eienaars 'n beter oplossing te bied tussen stadspendel en ligte landafstand veldry. 

Gebou vir plaaslike grondpad toestande

Die Subaru Forester en Outback is nie leerraam onderstel 4x4s soos Fortuner of Land Cruiser Prado nie. Maar hierdie vierwieltrek stasiewaens bied meer meganiese selfvertoue as baie ander kruis en sportnutsvoertuie wanneer daar diep in die Karoo of Botswana getoer moet word. 

Plaaslike toestande is nommerpas vir Subaru Forester en Outback eienaarskap. Suid Afrikaners is verknog aan die buitelewe en altyd gretig om die langste grond ompad te neem, na 'n vakansie of langnaweek bestemming. 

Kan Subaru 'n herlewing ervaar in die Suid Afrikaanse mark? Die voertuie bied ongetwyfeld meganiese voordele bo meeste van hul mededingers. Subaru het onlangs Toshimitsu Tanaka aangestel as besturende direkteur vir die maatskappy se plaaslike belange. Hopelik is dit 'n teken van herlewing vir die vergete veldvoertuig handelsnaam in Suid Afrika.  

Woorde en insigte deur Lance Branquinho