Land Rover se kuberaanval is ‘n voorskou van hoe sleg dinge kan verkeerd loop vir 'n motor maatskappy wanneer hul rekenaarsekuriteit vou.

Sedert 1 September is die Britse luukse motorvervaardiger lamgelê. Die kuberkraak groep, Scattered Lapsus$ Hunters, het Land Rover se interne rekenaarstelsel binnegedring en toegang tot sensitiewe data bekom.

Die ontwrigtings skokgolwe vir Land Rover wêreldwyd, is enorm. Begin vandeesmaand het sekere handelaars gesukkel om nuwe voertuie op die Land Rover stelsel te registreer. Maar die grootste krisis is voertuig produksie. Geen nuwe Defenders of Ranger Rovers is vandeesmaand gebou nie.

Vir luukse voertuig kopers, wat groot deposito’s betaal en nie wil hoor van lang wagtye nie, is die nagevolge groot. Vertragings met ‘n maand se verlore produksie beteken dat kopers wat hul nuwe Defenders of Range Rovers in diens wil neem, baie langer gaan wag daarvoor.

Van sleg na slegter

Land Rover het verlede jaar gesukkel met verliese omdat die verskaffingsketting vir Range Rover produksie traag was. Die vraag na hierdie luukse veldvoertuie was wêreldwyd baie sterker as waarvoor beplan is. Dit het Land Rover maande geneem om hul aanlegte en verskaffers op ‘n vlak te kry, waar Range Rovers na handelaar gelewer is in die syfers wat nodig was.

Vanjaar was 'n taai sakeomgewing vir Land Rover. Die meeste winsgewendste voertuig wat Land Rover bou, is Range Rover, wat reuse winsgrense bied vir handelaars. En nadat die vervaardigings tekorte om Range Rover herstel is laat verlede jaar, het die Amerikaanse handelstariewe ongekenne uitdagings gebring in Land Rover se belangrikste mark.

Struikelende Land Rover is nou in ‘n reuse stelsel krisis gedompel. Die maatskappy se rekenaarstelsel moet stadig en noukeurig herbou word, na die kuberkraak ongeval op 1 September.

Dit is 'n duidelike en donker waarskuwing vir alle motormaatskappye. Aanlegte, ingenieurswese, verskaffingsketting en handelaar na eienaar stelsels is nou almal digitaal en verleg. Wat die Land Rover kuberaanval bewys, is dat die kleinste swakplek in enige stelsel se digitale weefsel, 'n totale ineenstorting kan laat gebeur.



Die uitdaging van oor begin

Land Rover se aanlegte wêreldwyd moes tot stilstand kom, omdat alle masjiene met die internet verbind is en daarom blootgestel was in die kuberaanval. Maar hoekom is die Land Rover aanlegte so diep tot die internet oopgestel? Sodat verskaffers, handelaars en gehaltebeheer mense almal tegelyke tyd toegang kan hê tot die vervaardigings data.

Vervaardigingstelsels wat ‘oop’ is vir die internet het voordele. Dit help verskaffers om te verseker dat die regte aandele, op die reg tyd, by Land Rover se aanlegte aankom. Pleks van ophoop, in pakhuise, wat dooie kapitaalbesteding word.

Gehaltebeheer kenners gebruik die per-sekonde vervaardigingsdata om foute en ondoeltreffendheid onmiddellik te herken. En regstellings te maak. Voor die kwessies te groot word. Of swak geboude Defenders en Ranger Rovers, by die aanleg uitrol na handelaars toe.

Maar nou is die hele stelsel in gevaar. Land Rover se werkers sit by die huis. Die aanlegte se stelsels en masjiene loop nie. Wat ook beteken dat alles weer sal moet herkalibreer en integreer word. En vir verskaffers? Dit is nag vir baie van die kleiner verskaffers, wat werk op 'n daaglikse produksiesyfer, en nie die kapitaal het om drie weke se produksiestaking te oorleef nie.

Die Tata vraag

Vir Land Rover, wat 'n luukse handelmerk is en hoë inkomste kopers dien, is die kuberaanval 'n groot beeldskending. Getroue Defender en Range Rover eienaars is erg oor hul persoonlike data en sekuriteit. Die gedagte dat 'n kuberkraak groep dalk toegang tot dit kon kry, is nie 'n netelige kwessie nie.

Een van die sleutelvrae is of Land Rover se omskakeling na Tata se rekenaarstelsel diensspan deel van die probleem is. Land Rover is seder 2008 besit deur Tata, en die Indiese maatskappy het met kapitaalbesteding en vaardige bestuur, Land Rover tot nuwe hoogtes laat groei. Met uitstekende produk ontwikkeling en vervaardigingstelsels.

Maar in 2023 het Land Rover se interne rekenaarstelsel oorgeskakel na Tata Consultancy Services (TCS). Die belofte was Land Rover aanlegte wat heeltemal digitaal verbind sou wees, En sodoende met die doeltreffendste verskaffingsketting sou bou. Geen vermorsing van onderdele of trae aflewerings nie – maar ook reuse blootstelling, as enigiets sou verkeerd loop...

Data en vertroue

Naspoorwerk om die oorspronklike kuberswakheid te vind, is 'n amper onbegonne taak. Omdat Land Rover se hele besigheid, van vervaardiging na handelaars, alles so diep ingeskakel is op een stelsel. Een wat ‘oop’ is vir die internet en ander vernote...

Land Rover beloof om vandeesweek die Defender en Range Rover aanlegte weer aan die gang te kry. Maar bedryfkenners vermoed dat die maatskappy se inligtingsstelsels nie betyds beveilig sal word nie. Wat net meer druk op Land Rover se werkers, ingenieurswese personeel en handelaar sal sit.

Defender en Range Rover kopers wat groot geld betaal het, en met bouende angs sit en wag vir hul voertuie, se geduld raak daagliks minder.

Woorde en insigte deur Lance Branquinho