Toyota se Hilux is 'n barometer vir die Suid Afrikaanse ekonomie. As Hilux verkope strek trek, dan weet ons die ekonomie se ratte loop glad.
Hoekom is Hilux so 'n goeie maatstaf vir die plaaslike ekonomie? Omdat Hilux vir dekades lank Suid Afrika se bes verkopende voertuig is. En omdat Hilux kopers doenig is in die ‘werklike’ ekonomie: landbou, mynbou, ingenieurswese, tegniese dienspanne, steunvervoer en die boubedryf.
Ford se Ranger reeks verkoop meer dubbelkajuite as Hilux – leefstyl bakkies was as gesinsvoertuie gebruik word. Hilux verkoop baie meer enkel kajuit bakkies en eenvoudiger modelle, wat gebruik word vir werk, nie speel nie. Daarom is Hilux se verkoopsyfers die beter steekproef wat in die Suid Afrikaanse ekonomie aangaan.
Maar Hilux raak nou baie lank in die tant. Dit is al amper 'n dekade in die plaaslike mark en 'n nuwe, negende geslag Hilux word volgende jaar vervang. Wat is Toyota se bakkie planne tot dan? En is 'n verouderende Hilux ontwerp nog 'n goeie keuse vir plaaslike kopers?
Wat is die Legend 55?
Om vyf en 'n half dekades in die Suid Afrikaanse mark te herdenk, het Toyota nou die Legend 55 opknapping vir Hilux bekend gestel. Toyota se Suid Afrikaanse bemarkingspan vat dikwels raak, veral met Hilux. Dink aan die reuse suksesse wat die Dakar reeks, 'n eg plaaslike bemarkingsplan, vir Hilux gedryf het.
Legend 55 bring geen meganiese of noemenswaardige binneruim verbeterings vir Hilux nie. Dit is slegs 'n voorkoms opknapping. Iets om Hilux bietjie te panser in die bemarkings veldtog teen Ranger en die magdom nuwe Sjinese bakkies.
Die Legend 55 pakket is slegs van toepassing op Hilux dubbel en Xtra-kajuit modelle, met die 2.8 turbodiesel enjin en sesspoed outomatiese ratkas. Toyota se Legend 55 2.8 GD-6 Xtra Cab 4x2 is R728 300 en die 4x4 prys teen R813 700. Die Legend 55 dubbelkajuit 4x2 is R885 700 en 'n 4x4 weergawe sal jou R935 00 uit die sak jaag.
Wat kry Toyota aanhangers by met Legend 55? Fortuner 18-duim wiele, 'n sleephak, sluitbare laaibak rolbedekking, en 'n rolstaaf in die bak. Die enigste Legend 55 opgradering wat werklik van nut is, vir Hilux eienaars wat baie grondpad ry of ernstig veldry roetes verken, is die panserplaat onder die enjin.
Waar die ontwerp tekort skiet
Hilux se 2.8 turbodiesel enjin is beproef en maak mededingende kragsyfers, maar die sesspoed outomatiese ratkas is nie bekend vir seepgladde skakeling nie. Veral nie wanneer daar versnel moet word, vir verbysteek nie.
Ford se Ranger en die Sjinese dubbelkajuit bakkie is jare vooruit wat binneruim ontwerp betref, in vergelyking met Hilux. Toyota se bakkie lyk en voel baie oud van binne, veral die enkel USB herlaaipunt en verouderde tikskerm grafika en digitale gebruiksontwerp.
Met Hilux se raamtaaiheid, grondpadvermoë en veldry taaiheid is daar steeds geen twyfel nie. Maar die feit is dat Hilux se ritgehalte op swak grondpaaie, sonder 'n vrag in die bak, baie gemiddeld is. Veral in vergelyking met 'n Ranger of Amarok.
Baie sterk mededingers
Toyota weet Hilux is verouder en die verwaging is dat die plaasvervanger 'n reuse tegniese sprong sal maak vir die wêreld se bekendste bakkie modelnaam. Dink vergelykend aan Prado, wat ook lelik begin verouder het en toe met die nuwe weergawe, 'n diep verbeterde voertuig in die mark gestoot het. Wat ook onmiddellik die klasleier geword het.
Wat beteken Legend 55 werklik vir die Hilux reeks? Met Toyota is jou versekering kostes hoog, vanweë die diefstalrisiko, maar jou waardeverminder is laer as enige ander bakkie. Omdat Hilux nie enige uitsonderlike tegniese eienskappe het nie, maar alles redelik knap doen.
Hilux se naam is gebou op Toyota se uitsonderlike bougehalte en sterk verskaffingketting, wat beteken dat Hilux bakkies maklik is om te onderhou. En ook besonder lank, hou. Onder die strafste plaaslike toestande. Dit is hoekom Toyota se bemarkingsmense daardie Legend 55 plaatjies oral kan plak, met reg.
Woorde en insigte deur Lance Branquinho