Mercedes-Benz het ‘n roemryke ontwerp geskiedenis. Van die mees indrukwekkende bakvorms van alle tye is in Stuttgart geskep.
Dink aan modelle soos die oorspronklike 300SL en Bruno Sacco se invloedryke W124 sedan en R129 afslaankap reeks. Om nie eens te praat van die ryk S-Klass of Geländewagen geskiedenis nie.
Maar ten spyte van ‘n ryk ontwerp verhaal het Mercedes-Benz ook misgetrap die afgelope paar jaar. Die Duitse vervaardigers se elektriese voertuie, veral die EQ-reeks, het besonder swak verkoop. Baie van die skuld daarvoor is gepak op voorkoms. En dit het nagevolge...

Duitse meester ontwerper
Die laaste motorbedryf skoknuus vir die jaar, is dat Mercedes-Benz se hoof van ontwerp, Gordon Wagener (57), vroeg aftree. As hoof van ontwerp is alle Mercedes-Benz modelle Wagener se verantwoordelikheid stuur ook die breë ontwerp rigting van bekende Duitse handelersnaam.
Dit is ‘n ingewikkelde pos wat die laaste paar jaar oorweldigend geword het. Wagener moes Mercedes-Benz se erfenis eerbiedig maar ook nuwe ontwerpe skep wat Sjinese kopers sou lok.
Wagener het diep ervaring as ‘n motorontwerper en het sterk wêreldwye ervaring. Anders as baie ander Duitse ingenieurs en ontwerpers het Wagener nie slegs in Duitsland studeer nie. Na sy nywerheidsontwerp graad by die Universiteit van Duisburg-Essen, is hy in 1994 Londen toe. Daar het Wagener by die eksklusiewe Royal College of Art nog ‘n graad in vervoer ontwerp behaal.
As ‘n werkende ontwerper is Wagener eers na Volkswagen, toe Mazda en General Motors. In 1997 sluit Wagener aan by Mercedes-Benz oor die volgende drie dekades sou hy opgang maak en in 2016 word hy bevorder tot die maatskappy se hoogste ontwerppos en word ook ‘n direkteur.

Moderne Mercedes is 'n moeilike taak
Op 57 het Wagener nog baie gehad om te bied en sy uittrede voor amptelike aftreeouderdom sal baie vrae wek. Veral omdat die Duitse motorbedryf deur ‘n besonder swaar tydperk gaan. Kyk eenvoudig na die Suid Afrikaanse mark, waar Mercedes-Benz baie markaandeel verloor het na BMW, Toyota en ‘n magdom Sjinese handelsname met luukse kruisvoertuie.
Wat is Wagener se erfenis? Dit is moeilik om te bereken. Enige Mercedes-Benz ontwerper sal altyd in die skadu van die Italianer, Bruno Sacco, staan. As hoof van bakwerk en ontwerp van 1975 tot 1999, was Sacco letterlik die goeie tekenpen wat Mercedes-Benz deur hul goue tydperk van ontwerp gelei het.
Wagener moet pa staan vir ‘n baie breër reeks modelle, met alles van die A-Klass luikrug tot reuse SUVs soos die GLS. Om ‘n egte Mercedes-Benz herkenningselement en gevoel aan soveel uitlopende bakvorms, in verskillende segmente te gee, is amper ‘n onbegonne taak. Iets wat baie hedendaagse ontwerp direkteurs oorweldig.
Hoogs oorpronklike ontwerpe
As ‘n suiwer ontwerper, is Wagener hoog aangeslaan. Hy was verantwoordelik vir die van Mercedes-Benz se mees treffende luukse motor bakvorms. Van die A-Klass tot die W221 S-Klass.
Wagener het ook veelsydig getoon, met sy GLE ontwerp, waar Mercedes-Benz ywerig was om ‘n teenstander vir die BMW X6 geskep.
Maar dit was Wagener se supermotors wat werklik sy ontwerp talent bewys het. Hy was die onwerper op Mercedes-Benz se SLR McLaren en die ongelooflike AMG ONE supermotor.
Ongelukkig was dit die mislukking van Wagener se EQ ontwerp in die battery motor mark, wat reuse druk op sy gesig binne Mercedes-Benz gesit het.
Die maatskappy het AMG se ontwerper, Bastian Baudy, as plaasvervanger vir Wagener aangekondig. Maar hy sal nie 'n direkteur of raadslid van die maatskappy wees nie. Dit beteken dat vir die eerste keer in dekades, sit Mercedes-Benz sonder ‘n direksielid vir ontwerp.
Vir Mercedes-Benz se ontwerpspan om sonder 'n sterk hoof te wees, is 'n vraagstuk vir almal in die motorbedryf. Veral in ‘n tyd waar die wêreld se oorpronklike luukse voertuigvervaardiger, sukkel om erfenis en mark gerigtheid te smee met modelreeks hernuwing.
Woorde en insigte deur Lance Branquinho

