Indië is die wêreld se mees bevolkte land en die grootste Indiese nywerheidsmaatskappy is nou weer doenig in Suid Afrika se voertuigmark. 

Tata is 'n maatskappy wat verlede jaar 'n omset gedraai het gelykstaande aan die helfte van Suid Afrika se bruto binnelandse produk (BBP). Tog het Indië se mees bekende maatskappy het in 2019 voertuigverkope in Suid Afrika gestaak na jare se onderprestasie met ondergemiddelde klein gesinsvoertuie en bakkies. Waar Mahindra 'n indrukkende markaandeel en gevolg gebou het onder plaaslike boere en nywerheid voertuiggebruikers, het Tata se bakkie aanbieding gevou. 

Met 'n reuse ingenieurswese en ontwikkelingsbegroting, het Tata, soos die Sjinese, oor die afgelope vyf jaar groot verbeterings gemaak met hul voertuigreekse. Tata is ook die eienaar en beherende aandeelhouer in JLR, en die Indiese sake reus se kundige bestuur van Land Rover is 'n bewys dat daar diep motorbedryf kundigeheid is binne Tata se hoofbestuur. 

Strawwe mark en ekonomiese toestande nieteenstaande, is Tata vasberade om 'n suksesvolle terugkeer te maak na die plaaslike mark. In samewerking met die Motus groep, kan Suid Afrikaners nou kies tussen 'n reeks van vier nuwe Tata modelle, beskikbaar deur 40 handelaars landwyd. 

Wat Tata nou bied

Daar is geen bakkies in Tata se hersiene Suid Afrikaanse model aanbieding nie. Die vier modelle is almal kruisvoertuie of luikrûe. Pryse is nog nie beskikbaar nie, maar die kleinste van die vier nuwe modelle is Tiago, 'n luikrug wat in die Renault Kwid en Polo Vivo marksegment meeding. 

Tiago word aangedryf deur 'n 1.3-liter driesilinder enjin, wat 63 kW en 113 Nm wek. Twee ratkaste is beskikbaar: 'n vyfgang handrat of selfskakel handrat. Veiligheidstoerusting sluit twee voorste lugsakke, sluitweerremme, en elektroniese stabiliteitsbeheer. 

Binneruim skermtegnologie bestaan uit 'n 7- of 10.25-duim tikskerm inligting en vermaak stelsel, met Apple CarPlay en Android Auto slimfoon skakeling. Ander binneruim bykomstighede is 'n verkoelde stoorkassie en trurat kamera stelsel. Bagasieruimte is 242-liter en die Tiago se brandstoftenk, soos meeste ander stadskarretjie, is maar klein, teen 35-liter.

Klein maar reg vir grondpad

Kopers wat bietjie meer van 'n kruisvoertuig voorkoms en ruimte soek, kan kyk na die Tata Punch. Dit is op die dieselfde onderstel gebou as die Tiago, en gebruik dieselfde enjin en ratkaste. 

Punch het 'n ietwat groter bakvorm as Tiago, wat bagasieruimte met meer as 100-liter vergroot, na 336-liter. Die brandstoftenk bly 35-liter, so as jy daaraan dink om Punch as a grondpad toervoertuig te gebruik, beplan maar die brandstofaanvulpunte. 

Indië het baie grondpaaie en ingenieurs by Tata het 'n deegliker begrip van grondpad ry as meeste Europese ontwerpspanne. Dit is hoekom die Punch groter wiele het as die Tiago (15-duim teenoor 13-duime), en 187mm grondvryhoogte. 

Die Curvv kruis keuse

Voornemende Tata kopers wat iets soek wat die langpad sonder moeite kan aandurf, of genoeg enjin krag het vir verbysteek, kan kyk na die Curvv en Harrier. 

Curvv is Tata se VW T-Cross mededinger en die kruisvoertuig word aangedryf deur 'n turboaangejaagde weergawe van die Tiago/Punch se 1.3-liter driesilinder. Die enjin se 88 kW en 170 Nm dryf deur 'n sesgang handrat of sewegang dubbelkoppelaar ratkas. 

Bagasieruimte agter in die Curvv meet uit na 500-liter, en met ses lugsakke, is die binneruim beveilig vir enige botsing. Curvv bied ook drie wielgroottes aan, van 16- na 18-duim. Vir plaaslike kopers is die kleiner wielgrootte, met groter volume bande, altyd die beste keuse om ritgehalte te verseker op swak padoppervlaktes. 

Goekoop Evoque?

Die kroonmodel in Tata se nuwe Suid Afrikaanse modelreeks, is Harrier. Hierdie middelslag sportnustvoertuig is 'n Rav4 marksegment mededinger en het 'n paar interessante ontwerp en kragbron kenmerke. 

Harrier is een van die baie min middelslag voorwieltrek sportnutsvoertuie in Suid Afrika wat nog 'n diesel enjin bied; iets wat markleier, Toyota, nie meer bied met Rav4 nie. Die ander tegniese kenmerk van Harrier, en iets wat min mense besef, is dat dit gebou word op die Land Rover D8 onderstel. In beginsel is Harrier 'n Tata diesel enjin en binneruim ontwerp, op 'n Land Rover Evoque onderstel…

Diesel enjins al hoe minder beskikbaar in die kritieke Rav4 marksegment. Vir Suid Afrikaanse kopers wat die reikafstand en brandstofdoeltreffendheid van 'n turbodiesel na waarde ag, bied Harrier 'n 2-liter turbodiesel wat 125 kW en 350 Nm opwek. Daai kragsyfers dryf die voorwiele deur 'n keuse van sesgang handrat of outomatiese ratkaste. 

Harrier is slegs in voorwieltrek beskikbaar, soos meeste mededingers. Met 205mm se grondvryhoogte, behoort eienaars redelik breed deur die Karoo of plattelandse grondpaaie met een te kan toer. 

Ses standaard lugsakke en Harman Kardon klank, maak die Harrier se binneruim 'n veilig en vermaaklike plek om die langpad aan te durf, vir daai see vakansies of naweek wegbreek geleenthede bosveld toe. Bagasie ruimte is 445-liter. 

Met 'n reeks voertuie wat spreek van Tata se breë belange in ingenieurswese, van motors tot ruimtetuie, het Tata se tweede Suid Afrikaanse hoofstuk die belofte om baie meer geslaag te wees. 

Woorde en insigte deur Lance Branquinho