Een van VW se mees onderskatte voertuie, is die Tiguan AllSpace.
Hierdie 7-sitplek weergawe van die Tiguan het al die ruimte en derde ry sitplekke wat enige gesin benodig. Vir daai skoolsport saamry geleenthede. Of wanneer dit vakansie of langnaweek tyd is en kinders se maatjies moet saamtoer, en jy meer as 5 sitplekke benodig.
Die mark vir 7-sitplek gesinsvoertuie is sterk, maar diep mededingend. Die kroonmodel is Toyota se Fortuner, nieteenstaande die verouderde ontwerp en baie swak derde ry sitplek ontwerp.
In 'n Fortuner is dit moeite om in die derde ry sitplekke te kouter. En wanneer hulle nie in gebruik is nie (wat meeste van die tyd is), dan kan jy 'n Fortuner se sitplek 6 en 7 nie in die vloer weg vou, soos meeste ander 7-sitplek voertuie nie. Hulle vou sywaarts, wat jou agterste pakplek ruimte lelik belemmer.

Tussen AllSpace en Touareg
Tiguan AllSpace is vir meeste Suid Afrikaner 'n baie beter bestuurservaring en oplossing as Fortuner, wat werklik net sin maak as jy baie grondpad toer. Of 4x4 roetes 'n paar keer per jaar ry. Fortuner is te groot en lomp vir stadsbestuur, wat dit 'n parkeergarage nagmerrie maak.
VW se Suid Afrikaanse produkspan het herbesin oor die bemarking van 7-sitplek Tiguan. En besluit om die Tayron mark toe te bring. Dit gebruik dieselfde Golf 8.5 platform, maar het ander bakwerk as Tiguan.
Tayron is groter as Tiguan. Langer, met 'n groter asafstand. En baie meer pakplek. As jy daai derder ry sitplekke platvou, is daar 755-liter pakplek. Wat enorm is. Dit is meer as 100-liter groter as 'n Tiguan se laairuimte. En Selfs meer as VW se grootste sportnustvoertuig, die Touareg. Fortuner? Tayron het 39-liter meer pakplek.
VW se nuwe 7-sitplek gesinsvoertuig het ook die voordeel van 'n plat agterste laairuimte. Omdat die sitplekke in die vloer invou, pleks van Toyota se hoogs onpraktiese ontwerp, waar sitplekke 6 en 7, na die kante opvou, en die pakplek se laai vorm belemmer.

Genoeg krag vir 'n 7-sitplek voertuig?
Daar is slegs een enjinkeuse vir die Tayron reeks: VW se 1.4 TSI turbopetrol. Dit is 'n skaflike enjin, maar die klein slagvolume beteken dat krag en wringkrag syfers nie ongelooflik is nie: 110kW en 250Nm.
As jy al 7 sitplekke in 'n Tayron gebruik, en die bagasieruim vol laai, gaan dit lui voel. Die 110kW kragsyfers is net bietjie te beskeie. Ja, ironies genoeg is dit dieselfde kragsyfer wat jy kry met 'n 2.4-liter turbodiesel Fortuner. Wat boonop swaarder as die Tayron is. Maar die Fortuner het 150Nm meer wringkrag.
Waar die 1.4 TSI enjin en 7-spoed DSG ratkas wel 'n verskil maak, is stadsbestuur. Niemand weet meer van dubbel koppelaar ratkaste as VW nie. Die Duitsers is meesters van die tegnologie, wat blitsvinnige ratskakelings toelaat. En 'n laer kragsyfer enjin, baie flinker kan laat voel, teen snelhede onder 80km/h, in 'n daaglikse stadsbestuur omgewing.
Beter as Fortuner in die stad
Tayron is ander wêreldmarkte met VW se 2.0 TDI diesel beskikbaar. Hierdie enjin het jare se gehalte diens op Suid Afrikaanse snelweë het, in modelle soos Golf, Tiguan, en die oorspronklike Amarok. Dit is jammer dat VW nie die Tayron met hierdie 2.0 TDI enjin vir die plaaslike mark beskikbaar stel nie, omdat dit al die wringkrag en langafstand lae dieselverbruik het wat eienaars soek in 'n 7-sitplek gesinsvoertuig.
Met voorwieltrek en 'n enjin wat meer gemik is op stadsbestuur as langafstande volgelaai, is die Tayron nie tegnies 'n grondpad geskikte mededinger vir Fortuner nie.
Maar as jy moeg raak vir die lomp bestuurservaring van 'n Fortuner in die stad, waar beknopte verkeer en meer beknopte parkeerruimtes jou bestuursgemoed verduister. Dan is VW se 7-sitplek Tayron 'n alternatief vir diegene wat besef dat 'n leerraam 4x2 Fortuner net teveel 7-sitplek voertuig vir hul alledaagse bestuursomgewing is.
Dit mag dalk vreemd wees om 'n stadsgesinde 7-sitplek sportnustvoertuig soos Tayron met Fortuner te vergelyk. Maar Toyota oorheers die groot 7-sitplek motormark in Suid Afrika, en enige 7-sitplek voertuig moet gemeet word aan Fortuner.
Prysgewys begin die 7-sitplek Tayron by R853 800 vir ‘n Life, en R899 900 vir die meer luukse R-Line.
Woorde en insigte deur Lance Branquinho

