Toyota se nuwe Hilux is binne die volgende paar maande by plaaslike handelaars. Maar dit keer nie Toyota om vindingryke weergawes van die huidige Hilux te ontwikkel nie.
Hilux se welslae is nog altyd gebou op werkersbakkies. Nie soseer leefstyle bakkies nie. As jy boer of met enige ander nywerheid ontwikkeling betrokke is, dan is Hilux die oplossing vir jou bakkie behoeftes.
Verby die glanswêreld van R1m dubbelkajuit leefstyl bakkies, is daar ‘n mark vir bakkies wat nie skaam is om te werk nie. Toyota is die markleier hier en tegniese mense by Toyota het hard gewerk om ‘n reeks vindingryke ombouings te ontwikkel. Alles deur Toyota se eie ingenieurs ontwerp en gehalte en inskakeling te verseker.
Die nagevolg is ‘n reeks nuwe bakombouings vir Hilux, met amptelike Toyota waarborg en nadiensondersteuning. Jy kan nou deur jou plaaslike Toyota handelaar ‘n Hilux bestel of laat ombou wat nommerpas is vir jou behoeftes. Met uitstekende tegniese versorging.
Bakvorms vir boere en nywerheidskopers
Alle ombouings gebruik die enkelkajuit Hilux 2.4 GD-6 as 'n platform. Kopers kan kies tussen 4x2 of 4x4, met alle modelle wat aangedryf word deur Toyota se beproefde 2.4-liter turbodiesel enjin, wat 110kW en 400Nm lewer.
Toyota se nuwe ombouing program bied kopers wat hul bakkies hard werk, bakwerk ombouings wat saak maak. Wat nou reguit deur jou Toyota handelaar bestel kan word, met volledige ondersteuning en waarborg, sonder die moeite om ‘n verskaffer te gaan soek en jou bakkies te moet opgee vir ‘n paar dae om die ombouing te doen.
Die verskeidenheid ombouings is alles wat plaaslike Hilux enkelkajuit kopers begeer. Vragrelings vir boere. Valkante vir tegniese steundiens of nywerheidsaflewerings bakkies. En volop laairuimte oplossings, as jy pakplek benodig wat weer en misdaadbestand is. Albei kwessies wat vir enige Suid Afrikaanse bakkie eienaar van belang is.
Gewaarborgde vakmanskap
Kopers kan kies tussen staal of aluminium afwerkings. En alle monteerpunte en afwerkingshoeke word deeglik versorg om te verseker dat alles nommerpas is, sonder roes risiko. Al die Hilux enkelkajuit ombouings wat Toyota op die 2.4 GD-6 bied, word tot die hoogste tegniese gehalte gedoen.
Vir boere, mynbouspanne, siviele ingenieurs, tegniese steundienste, natuurbewaring, en vakmense is hierdie amptelike Toyota enkelkajuit ombouings iets waarvoor die mark jare lank gevra het. En soos dit dikwels met Toyota is, vat die ontwikkeling altyd langer as verwag, maar die tegniese gehalte van die eindproduk, is onbetwyfelbaar.
Toyota se aankondiging van die Hilux enkelkajuit ombouings program is ook dalk ‘n leidraad. Na wat? Dat wanneer nuwe Hilux volgende jaar beskikbaar word in Suid Afrika, daar dalk ook ‘n huidige generasie van enkelkajuit Hilux behou sal word, vir nywerheidskopers.
Woorde en insigte deur Lance Branquinho

