- Een van Suid Afrika se oudste motoraanlegte, wissel vanjaar eienaarskap.
- Nissan Suid Afrika se hoofstuk as 'n plaaslike vervaardiger is op sy einde.
- Maar hoe gaan Chery se koop van Rosslyn, plaaslike bakkie kopers beïnvloed?
Dit is ‘n hartseer Januarie vir Nissan Suid Afrika. Na meer as sestig jaar, is Nissan se plaaslike motoraanleg, in Rosslyn, oorgekoop.
Nissan sukkel al wêreldwyd vir die afgelope twee dekades. En ‘n nood reddingsplan wat verlede jaar aangekondig is, het twyfel geroep op die lewensvatbaarheid van die Rosslyn aanleg. Eens op ‘m tyd ‘n roemryke Nissan bedryfsbate, wat legendariese motors soos die Nissan 1400 en Hardbody bakkies gebou het. En ook geslagte van die Navara.
Maar Nissan se bedryfsvermoë met die Rosslyn aanleg het baie verswak oor die afgelope paar jaar, met slegs een model, Navara, wat daar gebou is. En in besonder lae syfers.
Wat die verkoop van Nissan Rosslyn so opspraakwekkend maak, is dat Chery die geld belê het. Met menige handelsname reeds in die plaaslike mark (Omoda, Jetour, Jaecoo…), het Chery ‘n groot teenwoordigheid in Suid Afrika. Maar een marksegment waar Chery nie handel dryf nie, is ‘n baie winsgewende een: bakkies.
Chery mik vir GWM P-Reeks

Met die koop van Nissan Rosslyn, kry Chery nou ‘n aanleg wat ingerig is om bakkies te bou. En omdat meeste bakkie modelle so eenders is, almal is agterwieltrek en het ‘n staal leerraam onderstel, sal Chery nie baie veranderinge moet maak om hul eie bakkies in Pretoria te bou nie.
Die idee dat ‘n Chinese motormaatskappy nou een van die 7 plaaslike vervaardigers word, en ‘n aandeel kry aan die regering se bykans R12bn se motorbedryf subsidies jaarliks, gaan verseker gevolge het vir werkersunies en plaaslike motorbedryf onderdeel verskaffers.
Vir Chery is dit suiwer sakesin. Die nuwe Himla bakkie het baie belofte in die plaaslike mark, en as Chery dit in die Rosslyn aanleg bou, sal die prysvoordeel baie groot word. Dit gee Chery ‘n voordeel bo Suid Afrika se gewildste Chinese bakkie, GMW se P-Reeks, ten opsigte van insetkoste.
Wat word van Nissan?
Maar wat beteken dit alles vir plaaslike kopers en Nissan aanhangers? Sonder plaaslike produksie is Nissan se toekoms in Suid Afrika onseker.
Nissan se huidige bestuur belowe dat die Japannese motormaatskappy in Suid Afrika sal aanbly. Maar as ‘n suiwer invoerder, met al die invoerbelasting, sal Nissan se baie gemiddelde modelreeks dalk veels te duur raak vir plaaslike kopers.
Daar is belowende nuwe Nissan sportnutsvoertuie en veldryers wat ontwikkel word, soos die Xterra en volgende Patrol. Maar dit is dalk te laat, omdat Nissan se markaandeel so vervaag het in Suid Afrika...
En vir Chery kopers? Die belofte van ‘n Himla dubbelkajuit, plaaslik gebou, teen ‘n baie billike prys, is verseker aanloklik.
Woorde en insigte deur Lance Branquinho

