Foton se vragmotors in Suid Afrika. Maar die Sjinese motormaatskappy se bakkies was nog nooit hoofstroom soos GWM sin nie.
Met hul nuwe V7 en V9 modelle, wil Foton ‘n baie gorter teenwoordigheid hê in die mark. Maar is hierdie die regte bakkies om dit te doen?
GWM het reuse welslae behaal met die P300, maar die groter P500 reeks sukkel. Suid Afrikaanse kopers weet dat reuse bakkie afmetings ‘n moeilike stadsbestuur ervaring veroorsaak. Jy sukkel vir parkeerplek by die skool se aflaaipunte, by die kantoor, en by die winkelsentrum.
Boonop is daar die beperkings van ‘n groot bakkie vir veldrywerk, of bosveld tweespoor roetes, waar daai groter bakwerk die heeltyd skraap en skade optel. En dit is waar Foton se nuwe V7/9 bakkies ‘n swakpunt het: die bakwerk afmetings is groter as ‘n Ranger of Hilux.

Goeie veldry waarde
Foton se V7 is die meer ywerig werk en veldry bakkie, met ‘n vaste agteras. V7 se veldrysyfers is skaflik: ‘n 28-grade aanvalshoek (wat slegs 1-graad minder as Hilux is), en ‘n indrukwekkende 240mm se grondvryhoogte op 18-duim bande
Die V7 het meer luukse toerusting, maar is slegs in 4x2 beskikbaar. Foton bemark V9 as meer van ‘n leefstyl bakkie, met ‘n semi-onafhanklike veelskakel agteras.
Soos met alle Sjinese voertuie, het hierdie bakkies baie goeie toerustingvlakke: die bestuurdersitplek is op 12 maniere verstelbaar, en dit het ook verkoeling en verhitting. Die reuse 14.6-duim tikskerm vermaak en inligtingstelsel is helder en maklik leesbaar, maar dit werk slegs met Apple CarPlay, nie Android Auto nie.
Die laaibak is besonder groot, maar die nut van Foton se integreerde leerstelsel, is moeilik om te verstaan. Hierdie klein leer, wat veronderstel is om jou te help om veiliger die oop laaibak te betree, het geen handvatsels nie. Handondersteuning is deurslaggewend as jy ‘n leer gebruik vir enigiets. En dan is daar die vraag aangaande hoe erg daai leer, wat weg vou in die laaibak deur, gaan begin loswerk en raas, na duisende kilometers se sinkplaat grondpad…
Laaivermoë vir hierdie nuwe Foton bakkies is sterk: 995kg loonvrag vir die V9 en 1115kg vir die vaste agteras V7. Sleepvermoë is ook gelyk aan die beste Hilux en Ranger modelle, teen 3500kg.
Diesel hibried denkfout?
Waar hierdie nuwe Foton bakkies se syfers minder sin begin maak, is die enjins en kraglewering.
Foton se V7 en V9 betree die Suid Afrikaanse mark as turbodiesel-hibried bakkies. En dit is altyd ‘n vreemde kragbron, omdat werklike diesel-hibried voertuie nooit ‘n goeie idee is nie. Hoekom? Omdat die diesel enjins se kraglewering oor so ‘n klein toeretelling gebeur, is dit sinneloos om ook battery krag te hê, omdat albei kragbronne amper heeltyd in verhouding met mekaar loop, pleks van ondersteunend.
Die ‘hibried’ bakkies wat Suid Afrika beskikbaar is, soos die kroon Hilux 2.8 modelle, is nie werklike hibried voertuie nie. Omdat die battery stelsels so klein is, dat hulle werklik net bestaan vir besoedelings en uitlaatgas regulasies in Europese markte.
Bakkies soos die Hilux 2.8 diesels, het slegs 'n integreerde 48v hibried stelsel. Om te voldoen aan uitlaatgaswetgewing. Daai hibried tegnologie doen amper niks vir die dieselverbruik of versnelling nie.
Foton se V7/V9 bakkies is nie veel anders as enige ander diesel-hibried bakkie nie: hulle het klein battery stelsels wat as deel van die 48v elektriese argitektuur. En nie noemenswaardige aandrywing van die wiele doen nie.
Groot bakkie – klein enjin
Hierdie Foton bakkies is nie liggewig nie. Leeg, weeg hulle tussen 2200 en 2300kg. En die enjin syfers wat Foton voorsien, is nie heeltemal wat hulle voorstel nie. Die V7/9 se 2-liter turbodiesel enjin lewer 120kW en 450Nm, maar dit is met die volgelaaide battery krag bygereken.
Foton het nog nie die V7/9 enjin se suiwer kraglewering bekend gemaak nie. En dit is die syfer wat tel.
As jy ‘n paar kilowatts aftrek vir daai battery kraggradering, dan kom jy agter hoekom hierdie swaar Sjinese dubbelkajuit bakkies, nie juis goeie snelweg verrigting gaan hê nie. Hoekom? Doen die krag-to-gewig verhouding: 120kW minus 'n paar kilowatts se hibried battery krag, vir 'n 2300kg bakkie, is nie gelyk aan flink versnelling nie. Veral nie as julle met ‘n kajuit vol passasiers, en laaibak vol bagasie, op die pad is nie.
Foton se Tunland V7 4x2 is R689 000 met die 4x4 wat prys teen R765 900. Die luukser Tunland 4x2 is R725 900 en die 4x4 weergawe R799 900.
Woorde en insigte deur Lance Branquinho

